“Dit is totale, totale chaos.”
Só beskryf ’n persoon die ongeluk op die N1-snelweg, wat verlede Vrydagoggend tussen die Mike Pienaar-boulevard- en Plattekloofweg-afritte naby Panorama plaasgevind het.
Altesame twee vragmotors en sowat 10 ander voertuie was by die motorongeluk betrokke, wat grootskaalse verkeersopeenhoping veroorsaak en oggendverkeer erg ontwrig het. Die ongeluk het kort voor 07:00 plaasgevind.
Die Stad Kaapstad se verkeersdiens, wat bystand verleen het, het die publiek Vrydag vroeg ingelig oor die ongeluk in dié gebied en dat hulle die hoofweg (inkomend) tydelik moes sluit. Motoriste is aangeraai om van alternatiewe roetes – insluitend Frans Conradie-rylaan en Voortrekkerweg – gebruik te maak.
Alle nooddienste van die Stad Kaapstad is na die toneel ontbied.
In ’n video wat op sosiale media die ronde doen, kan gehoor word hoe een van die mense wat in die ongeluk betrokke was, beskryf hoe ’n vragmotor hom van agter af getref het.
“So vanoggend het ’n vragmotor besluit om agter teen my vas te ry, twee vragmotors. Een vragmotor slaan om. Een tref my agter en verloor sy vrag. Ek is ongedeerd. Ek kan net die Here dank daarvoor,” sê die onbekende persoon.
Volgens die stem in die video is een motor onder ’n vragmotor vasgekeer.
Russel Meiring, woordvoerder van die ER24-ambulansdiens, sê dit was ’n gelukkige ontsnapping vir almal betrokke in die reeksongeluk. Een persoon het geringe beserings opgedoen, sê Meiring.
ER24, die Stad Kaapstad se brandweerdiens, metro-reddingsdienste, EMS-ambulansdiens en ander nooddienste was op die toneel.
“Verskeie mense het naby die toneel rondgedwaal en die mediese werkers het van die pasiënte geassesseer, maar net een persoon het ligte beserings opgedoen. Gelukkig is geen ernstige beserings of sterftes aangemeld nie.”
Die een pasiënt is op die toneel behandel en na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.
Meiring sê die verkeer is erg geraak weens die ongeluk. Die N1 is omstreeks 10:30 weer vir verkeer geopen.





