Ondanks wêreldwye en plaaslike ekonomiese terugslae is die Suid-Afrikaanse ekonomie, anders as verwag, nie in ’n te slegte posisie nie, meen Jac Laubscher, voormalige ekonoom van die Sanlam Groep.
Laubscher was die spreker by die vergadering van die Durbanville-Sakekamer verlede Donderdagaand by die Rust-en-Vrede-galery in Wellingtonweg in Durbanville. Hy het sakelui moed ingepraat en gesê die goeie nuus is dat Suid-Afrika se ekonomie stabiel is.
“Ons het baie om voor dankbaar te wees, maar ook baie om op voort te bou,” het Laubscher gesê.
“Die sakekamer se lede is eienaars van klein tot mediumgrootte sake-ondernemings, wat beïnvloed word deur faktore spesifiek tot die bedrywe waarin hulle betrokke is en hul onmiddellike sake-omgewing.
“Maar hulle bevind hulle ook binne ’n groter prentjie van ekonomiese veranderlikes en beleid wat op ’n nasionale en internasionale vlak bepaal word,” het Laubscher gesê.
Volgens hom volg Suid-Afrika (SA) tendense in die internasionale ekonomie en loop die land se ekonomiese siklus saam met die internasionale siklus, veral weens fluktuasies in kommoditeitsmarkte – kommoditeite verteenwoordig 60% van SA se uitvoer, wat kapitaalvloei na SA beïnvloed, asook periodes van ekonomiese opswaai afhanklik van meevallers vanuit die internasionale ekonomie.
“Dit was die afgelope 20 jaar swakker weens die beperkte vermoë van kommoditeitsprodusente soos die mynwese om nie net uit hoër pryse voordeel te trek nie, maar ook om produksie en uitvoervolumes te verhoog,” het hy gesê.
Volgens Laubscher is Covid-19 steeds ’n risikofaktor en nie verby nie. “Die nagevolge is nog steeds met ons. Meeste lande het nog nie hul voor-Covid-vlak van ekonomiese aktiwiteit bereik nie. Die meerderheid van lande sal dit nie voor 2026 herwin nie.
“Herstel wissel van land tot land en van bedryf tot bedryf. Ontwikkelde lande herstel vinniger as ontwikkelende en opkomende marklande weens hul groter vermoë om die ekonomie deur fiskale en monetêre beleid te stimuleer en het beter toegang tot inentings,” het hy gesê.
SA se reële bruto binnelandse produk (BBP) is steeds 1,5% laer as aan die einde van 2019.
“As verlede jaar se onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng nie plaasgevind het nie, sou ons reeds verby die 2019-vlak gewees het, wat merkwaardig sou wees. SA sou hom bevind het in die geselskap van ’n uitgesoekte groepie lande,” het hy gesê.
Die grootste bydrae het van die primêre sektor (mynbou en landbou) gekom terwyl die sekondêre sektor steeds 10% onder die 2019-vlak is, volgens Laubscher.
“SA is goed op pad om verby die daling weens Covid-19 te kom. In China, waar drastiese inperkings weer ingestel is, is dit egter die teenoorgestelde.
“Drastiese inperkings beïnvloed besteding en produksie, wat die ekonomiese groei in China laat verlangsaam. China is ’n belangrike handelsvennoot van SA.
“Die groei in China verlangsaam ook weens die veroudering van sy bevolking, stadiger toename in sy arbeidsmag, styging in arbeidskoste, terugkeer na groter staatsbeheer en sy krimpende aantreklikheid as beleggingsbestemming,” het hy gesê.
Die oorlog in Oekraïne is ook negatief vir veral Europese, maar ook globale ekonomiese aktiwiteit, het hy gesê.
“Die styging in kommoditeitspryse (spesifiek van energie en voedsel) en hoër inflasie dwing sentrale banke om ’n strenger monetêre beleid te volg.
“Ander faktore is die ontwrigting van internasionale ekonomiese verhoudings, die gevolge van sanksies wat nog nie eintlik sigbaar nie en die onsekerheid van hoe lank die oorlog gaan duur.
“Tyd sal leer wat die implikasies van die oorlog, tesame met China se anti-Westerse skuif, vir die internasionale orde sal wees – polities sowel as ekonomies, en hoe SA hom in die veranderende wêreld sal posisioneer,” het hy gesê.
Volgens ekonomiese statistieke is die Suid-Afrikaanse ekonomie redelik stabiel, hoewel op ’n te lae vlak en met talle uitdagings, het Laubscher gesê.
“Dit word bevestig deur die kredietgraderingsagentskappe Moody’s en Fitch, wat SA se waardering twee kerwe onder sy beleggingsgradering gehou het met ’n stabiele vooruitsig. Dit beteken hulle verwag nie dat die gradering in die nabye toekoms aangepas sal word nie.
“S&P het SA opgradeer na ’n positiewe vooruitsig – dus dat hulle voorsien dat die volgende verandering in SA se kredietgradering ’n opgradering sal wees, maar dit kan tot twee jaar vat. SA het nog ’n lang pad om te gaan.
“SA se lopende rekening het verlede jaar ’n oorskot gelykstaande aan 3,7% van BBP aangeteken teenoor ’n tekort van 2,6% in 2020. Dit was hoofsaaklik te danke aan hoër kommoditeitspryse en sal na verwagting vanjaar weer ’n oorskot van 2% van BBP lewer.
“SA se ruilvoet (verhouding van uitvoerpryse tot invoerpryse) het in 2021 met 4,6% verbeter – kumulatief met 19,1% van 2019 tot 2021.
“Dit was veral te danke aan hoë kommoditeitspryse wat ’n styging van 14,5 % in die indeks van uitvoerpryse ondersteun het, en meer as gekompenseer het vir die styging in oliepryse,” het hy gesê.
“Die land se wisselkoers is ook redelik stabiel. Die rand het onlangs verstewig in reaksie op die verhoging in die repokoers en S&P se opgradering van die vooruitsig vir SA se kredietgradering.
“Die rand het ook sedert die begin van die jaar teenoor al die belangrike geldeenhede versterk en ons is eintlik op die oomblik nie in ’n slegte posisie nie,” het hy gesê.





