Brenton Swartz (in die rolstoel) is by (van links) Cathy Bothma, Maria Bird, Daphne Arends, Lenie Virgin, Thandi (hul versorger) en Antoinette Manuel. Agter staan Peter Howard en Martin Sodoms (voor regs) verf met sy mond. Swartz en Sodoms is lede van die Mond- en Voetskildervereniging.

Credit: SYSTEM

Een keer per maand nooi Anne-Marie Watt, bestuurder van Meals on Wheels in Parow, iemand uit die gemeenskap wat ’n lewensveranderende ondervinding beleef het om met die senior burgers daaroor te kom praat.

Einde verlede maand het Brenton Swartz (43) van Durbanville sy lewensverhaal kom deel en daar was nie ’n droë oog onder die seniors nie.

Hy is vergesel deur sy vriend Martin Sodoms, ’n mondskilder, en hul versorger, Tandiwe Rhojie. Albei is lede van die Mond- en Voetskildervereniging.

Swartz is die afgelope 27 jaar ’n kwadrupleeg nadat hy in ’n skietongeluk van sy nek ondertoe verlam is.

“Ek het voor die skietongeluk in Atlantis gewoon, waar ek tot graad 10 skoolgegaan het. In September 1994 het ek ná my skietongeluk in die hospitaal beland en agt maande daar gebly, en is as ’n C4-C5-kwadrupleeg geklassifiseer. Ek is toe na ’n skool vir fisiek gestremdes en het my matriek in 1998 voltooi,” sê hy.

Swartz het toe ’n inwoner van Huis Andries Olivier in Durbanville geword. Die huis was toe ’n drieslaapkamerhuis en hy moes in die motorhuis woon en nog ’n persoon in ’n wendyhuis, sodat die huis toe vyf kwadrupleë kon akkommodeer.

In 1999 het hy in teken met rekenaarhulp gestudeer en twee sertifikate verwerf.

“Nadat ek my twee sertifikate verwerf het, kon ek nie my studies voortsit nie weens tersiêre inrigtings wat nie rolstoelvriendelik was nie. Ek het ander kwadrupleë ontmoet, wat kunsklasse by die Bellville-biblioteek bygewoon het.

“Ek het niks gehad om te doen nie, en het saam met hulle die kunsklasse bygewoon. In 2001 het ek na ’n groter huis in Durbanville getrek, wat 12 kwadrupleë kon huisves, en het daar my studie in argitektuur voortgesit. Ek het in 2003 daarmee begin en het my nasionale diploma as ’n argitektegnikus in Desember 2006 verwerf.

“Ek was gelukkig om vir 18 maande by ’n argiteksfirma te kon werk en daar ervaring opgedoen. Ek het ook vir ’n maand by ’n ingenieursmaatskappy gewerk.

“In 2008 het ek heeltyds begin skilder omdat ek geen werk kon kry nie en het verskeie uitstallings gehou. My raad aan my medemens is om nooit op te gee nie – nie op die lewe, jouself of ander mense nie.

“As jy ’n swak hand deur die lewe uitgedeel is, onthou dat niks altyd dieselfde bly nie. Net soos die goeie dinge kom en gaan, geld dieselfde vir die slegte dinge.

“Gebed het my regtig deur al die donkerte gedra, en ek glo dit sal dieselfde vir jou ook doen. Harde werk word altyd beloon; sommige kere mag dit net langer neem as wat jy verwag het, maar dit sal kom. As ’n gulde geleentheid hom voordoen, gryp dit met albei hande aan en hardloop daarmee.

“Onthou ook altyd waarvandaan jy kom sodat jy nederig kan bly, en as jy kan, gee terug aan ander wat in nood is; daar is meer geluk in om te gee as om te ontvang,” sê Swartz.

Bel Brenton Swartz by 072 293 1424 om vir ’n praatjie te nooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article