Die Tygerberg-kinderkoor is ná twee jaar weer terug op die verhoog.

Credit: SYSTEM

In 1972 wou dr. Etienne Smit ’n spesiale koor saamstel om op te tree by die gala-aand van die Tygerberg-eisteddfod. Hy het vir Hennie Loock gevra om hierdie koor te dirigeer. Só is die Tygerberg-kinderkoor gebore.

Loock was vir die volgende 46 jaar die koor se dirigent, met sy vrou, Theresa Loock, as die koorbegeleidster, waarná Karina Erasmus die leisels by hom oorgeneem het met haar dogter, Madri Gerber, wat self ook in die koor gesing het, as koorbegeleidster.

Erasmus het 24 jaar gelede by die musiekpersoneel van die Tygerberg-kinderkoor aangesluit toe haar twee dogters in die koor gesing het – om te help met die afrigting van die stemgroepe wanneer hulle nuwe musiek moes aanleer. Op hierdie manier het sy 20 jaar se indiensopleiding ontvang onder Hennie Loock.

Dit is ook dus te verstane dat die kenmerkende klank van die Tygerberg-kinderkoor, selfs met die wisseling van verskeie koorlede deur die jare, behoue gebly het. Vandag is daar lede van so ver as Wellington, Paarl, Somerset-Wes en die noordelike voorstede van Kaapstad in die koor.

Die dirigent sê wat die Tygerberg-kinderkoor spesiaal maak, “is dat ons so ’n groot hoeveelheid gevorderde musiek aanleer; gewoonlik meer as 20 nuwe stukke per jaar”.

Daar word verskeie soorte koormusiek gesing – van klassieke koorwerke in Europese tale, soos Spaans, Latyns en Duits, tot moderne popmusiek in Engels en ook tradisionele Afrika-musiek. Dit is ook die rede waarom kinders wat in hierdie koor sing, merkwaardige uithouvermoë en deursettingsvermoë het.

Hulle moet vir lang ure kan staan vir konsertuitvoerings; hulle leer verhoog-etiket; hoe om voor gehore te praat; hoe om die druk van ’n onbekende situasie te hanteer; om goeie beplanning te doen wanneer die koor aanhou oefen tydens toetsreekse of eksamens; en om hulself te handhaaf en selfstandig te wees.

Soos talle ander kunstenaars het die pandemie se inperkings dit baie moeilik gemaak vir die koor om op te tree, wat ’n belangrike bron van inkomste vir die koor is.

Hulle het egter steeds kreatief gebly om ’n weg te baan en het buitelugkonserte gehou en in liefdadigheidskonserte soos vir die Eyes2Eyes-kornea-oorplantings, Young Hearts Africa en hul eie Children4Children opgetree. Hulle het ook ’n video opgeneem van die lied “Baba Yetu” en hierdie video is binne een week meer as 100 000 keer gekyk. Die koor het in April sy nuutste musiekvideo, Africa (van Toto), wat by Thali Thali in Langebaan opgeneem is, vrygestel. Hierdie video is binne ’n maand meer as 400 000 keer gekyk.

In Oktober gaan die koor vir die eerste keer na Namibië toer en daar saam met plaaslike kore optree. Die hoogtepunt van die jaar vir die Tygerberg-kinderkoor sal die 50 jaar-reünie van oudkoorlede in Desember wees. Hennie Loock, die voormalige dirigent van die koor, sal in die konsert ook as gasdirigent die reünie-koor dirigeer.

Covid-19 het tot gevolg gehad dat skoolkore nie kon sing nie. Dit het die Tygerberg-kinderkoor sleg geraak omdat daar nie nominasies vir koorlede van skole ontvang is nie en slegs private aansoeke is ontvang.

Tans is die koor heelwat kleiner as gewoonlik en bestaan uit 57 koorlede van 10 jaar tot 14 jaar oud.

Dr. Thea Lamprecht oorhandig ’n eksemplaar van haar doktorale tesis oor die Tygerberg Kinderkoor aan Hennie Loock, voormalige dirigent vir 47 jaar.

Vandag is daar lede van so ver as Wellington, Paarl, Somerset-Wes en die Noordelike Voorstede van die Kaap in die koor.

Volgens Erasmus is daar deur die jare talle veranderings wat plaasgevind het, “maar een ding wat steeds dieselfde is, is die ervaring wat die Tygerberg-kinderkoor sy lede bied”.

Buiten talle lewensvaardighede wat in die koor aangeleer word, verbreed die koor die lede se wêrelde, die kinders ontmoet nuwe vriende van verskeie dele van die Wes-Kaap, en só word dit een groot familie wat saamgeweef word deur musiek.

“Ek hoop ons droom realiseer om ons vierde plek algeheel op Interkultur se wêreldranglys van kore te verdedig en te behou en in 2023 aan ’n internasionale koorkompetisie in die buiteland deel te neem,” voeg Erasmus by.

Kinders kan enige tyd van die jaar aansoek doen vir ’n oudisie.

Rig navrae per e-pos aan tygerbergkinderkoor@gmail.com oor die oudisieproses.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article