Die Tygerberg-kinderkoor het verlede jaar 50 jaar oud geword.
“Ons weet nie of daar ’n ouer kinderkoor in die land of wêreld is nie,” sê Karina Erasmus, tans die dirigent van die koor.
Volgens haar kon die koor nie in 2022 sy verjaarsdag vier nie en is besluit om vanjaar ’n reünie-verjaardag met oud-koorlede te hou.
Oud-koorlede van oor die wêreld heen kom gewoonlik vir hul vyfjaarlikse reünie om as ’n koor weer saam te sing en musiek uit vorige jare te sing.
Hennie Loock, eerste dirigent van die koor, sal ook werke uit die vorige jare dirigeer.
Die huidige koor, koor 51, sal werk uit sy repertorium sing, asook ’n paar nuwe werke wat spesiaal vir die verjaarsdagvieringe gekies is.
Daar sal ook ’n program aangebied word deur oud-koorlede, wat vandag bekend is as solokunstenaars, soos Minette Pearce, Christine Bam, Eugene Moag, Ninke en Juan Geldenhuis, 8 Misses Croon, om net ’n paar te noem.
Annerie van Eeden, ’n oudkoorlid van die Tygerberg-kinderkoor, sê sy reken die koor is die eerste streekskoor vir leerders in Suid-Afrika wat hierdie mylpaal bereik.
Kaartjies is by Quicket beskikbaar. Oudlede kan Van Eeden (Annerie Smit) by tccreunion50@gmail.com kontak.





