Die 79-jarige man wat tereg staan op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding van ’n 11-jarige meisie, het verlede week Dinsdag vlugtig in die Piketberg-landdroshof verskyn.
Hy is in April in hegtenis geneem en is tans in 24 uur-huisarres in Brackenfell, waar hy by familie tuisgaan.
Volgens kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het die beweerde verkragting op 13 April in Redelinghuys plaasgevind waar die man ’n bekende kunstenaar is.
Daar is voorheen berig dat die man voor die beweerde verkragting al deur die gemeenskap in Redelinghuys verdink is dat hy met die plaaskinders in die omgewing lol.
Hy is vroeër vanjaar borgtog van R5 000 vrygelaat onder streng voorwaardes dat hy nie sy tuiste in Eden Park, waar hy nou by familie tuisgaan, mag verlaat nie.
Hy mag ook nie die Piketberg- of Redelinghuys-gebied binnekom nie.
Die gemeenskapsleier Billy Claasen het aan News24 gesê dat die gemeenskap die saak fyn sal dophou.
“Ons moet hande vat om ons gemeenskap teen seksuele geweld te beskerm. Ons is bewus van mense wat vorendag gekom het oor wat met hulle gebeur het. Die gereg moet nou sy gang gaan,” het hy gesê.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 20 Julie uitgestel.





