Die sowat 45 kinders van die noordelike voorstede met die klere, serpe en beanies wat hulle ontvang het.

Credit: SYSTEM

Boodskappe van dankbaarheid van ouers en welsynwerkers van die noordelike voorstede het sedert die afsluiting van die vakansie-Bybelskool van die Tygerberg-dienssentrum op Vrydag 8 Julie ingestroom.

Anne-Marie Watt, bestuurder van die dienssentrum, sê haar gemoed was vol toe sy die eerste boodskap ontvang het.

Een boodskap lui: “Anne-Marie, vanoggend wil ek uit die diepte van my hart vir u baie dankie sê dat u ons kinders genooi het. Ek weet dit kom van die Here af en u was gehoorsaam aan die stem van die Here. Die Bybelskool het ’n groot blydskap in ons harte gebring en ook in ons gemeenskap, en ek glo en vertrou dit wat ons kinders die week geleer het, gaan in die gemeenskap toegepas word. Jy sal altyd die tannie wees wat hul hartjies bly gemaak het. God se seëninge op jou en jou familie; ons is lief vir jou.”

Nog ’n boodskap lui: “Gisteraand kom roep my dogter my dat ek moet kom kyk hoe sing die kinders van die buurt met hul komberse om hulle gevou – die liedjies wat hulle die week geleer het en die ander kinders kyk hulle aan. Dit is die indruk wat jy weer eens in ons gemeenskap gemaak het.”

45 kinders kry ontbyt

Die vakansie-Bybelskool is van Maandag 4 tot Vrydag 8 Julie by die dienssentrum gehou en die 45 kinders het die dag afgeskop met ’n ontbyt, ’n Bybelstorie, die maak van ’n kunswerk, asook die aanleer van liedjies en speletjies wat die res van die week deel van die program was. Verskeie gaste en kunstenaars het die kinders ook kom vermaak. Die personeel van die dienssentrum het twee jaar aan die program gewerk, reëlings getref en alles gereed gekry voordat dit aangebied is.

“Dit was die eerste een sedert die middel tagtigs, maar beslis nie die laaste nie. Die span wat vir die sukses verantwoordelik was, buiten myself, is Lenie Virgin (program-uiteensetting), Chelise Watt (administrasie), Melanie Adonis (speletjieskoördineerder), Christelle Meyer, Zenae en Bianca Cloete (musiek en sang), Mariaan Rabie (storieverteller), Barbara Duminiet (kuns-aanbieder) en die personeel van die Tygerberg-dienssentrum.

“Elke dag het sy eie tema gehad, maar die oorhoofse tema was ‘Jesus ons alles’,” sê Watt.

Epping Forest en Leonsdale

Die meeste kinders was van Epping Forest en Leonsdale en die twee gemeenskapsleiers, Katriena Balie en Elizabeth Ceasar, is lank voor die tyd gevra om kinders tussen 9 en 11 jaar te soek, hul skoen- en kleregroottes te kry.

Danksy sosiale media kon Watt vir skenkings en optredes van gaste vra, wat die week vir die kinders lekker gemaak het.

“Die Goodwood-brandweer het die kinders kom wys wat hulle alles kan doen en van die kinders kon ook self ‘brandweerman’ speel en is gepeper met vrae,” sê Watt.

“Die bekende Chris Welch en sy seun, Grant, het hul kunstoertjies kom wys en die kinders het tjoepstil gesit toe ’n duif uit ’n brandende opdienskottel te voorskyn gekom het,” sê Watt.

Die Cape Town Free Chapter-motorfietsklub het die kinders op hul Harley Davidsons laat sit en lekkergoedpakkies aan hulle oorhandig.

Tydens die kunsklasse kon die kinders klippe en blikkies verf, wat moes droog word sodat hul spekboompies daarin geplant kon word. Sokkies is gebruik om wurms, seekatte en hasies te maak en dit moes versier word. CD’s is geverf wat hulle as plekmatjies vir glase kon gebruik.

“Vrydag is deur almal met gemengde gevoelens begroet, want ons het besef dat ons bedrywige week tot ’n einde gekom het. Die verrassing was toe die kinders in pare verdeel is en elke meisie ’n rok of leggingen ’n T-hemp, en die seuns elk ’n broek en hemp of ’n broek en baadjie van Amanda Biondi ontvang het. Boonop is ’n geskenkpakkie, gevul met lekkernye, aan elkeen oorhandig, asook ’n serp en beanie. Dis deur Aliki Blunt en haar brei-vriendinne geskenk. Carol Bruton het 100 sweetie pies geskenk, Pieter en Reinette Colyn en Johanna Kotze 21 komberse en Pieter en Reinette Colyn het die res geskenk, sodat elke kind ’n kombers huis toe kon neem. Daar was ook ander skenkings deur individue en daarvoor sê ons baie dankie,” sê Watt.

Bybelskool in September

Sy hoop om in die Septembervakansie weer ’n Bybelskool aan te bied en vra nou al vir skenkings vir kinders tussen 9 en 12 jaar van skoene, klere, komberse, tandepasta, tandeborsels, waslappe en nie-bederfbare voedsel.

“Mense wat ’n bydrae wil maak, kan my by 083 375 0246 bel of by die dienssentrum kom inloer. Ons is ook op soek na vrywillige werkers wat Woensdae van 08:00 tot 12:00 wil help om maaltye by seniors af te lewer,” sê Watt.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article