Dan Plato het vroue in Brackenfell op nasionale Vrouedag toegespreek. FOTO: Desirée Rorke


Met die aanhoudende toename in geslagsgeweld in die provinsie meen vele rolspelers meer fokus moet geplaas word op die rol van die man in die gemeenskap.

By ’n nasionale Vrouedag-geleentheid verlede week in Brackenfell het Dan Plato, lid van die Wes-Kaapse wetgewer en vorige burgemeester van Kaapstad, gesê hy beywer hom vir ’n dag wat op mans toegespits is.

“Vrouedag is ’n baie belangrike dag op ons nasionale regering se kalender, maar aanvalle teen vroue raak net meer en daar moet meer gedoen word.

“Dis mans wat hul hande lig vir vroue, hul frustrasies op vroue uithaal en van hulle fisieke en emosionele slaansakke maak, daarom is dit nodig om die fokus op mans te begin plaas,” het hy gesê.

Beverley Schäfer, adjunkspeaker van die provinsiale parlement, het by die geleentheid ook haar steun aan die saak toegesê.

“Ons lewe in ’n getraumatiseerde samelewing waarin baie seuns van jongs af blootgestel is aan geweld in die huishouding, en waar geweld ook deel uitgemaak het van hul eie opvoeding.

“Maar tog is daar nooit geleentheid gebied aan seuns en jong mans om uiting te gee aan hul gevoelens en hartseer nie.

“Kinders boots die gewelddadige gedrag van hul ouers na en die bron van die plaag van gesinsgeweld sit in die donker hoekie van ons land se geskiedenis.

“Ons lewe in ’n land waar vroue nie meer vrylik in die straat kan loop nie, waar verkragting al so algemeen geraak het dat die samelewing gedesensifiseerd is.

“Dit is die trauma wat vroue vandag moet verduur – nie net fisiek nie, maar ook die stille trauma van emosionele mishandeling.”

Om dié patroon te verander, sê Schäfer, moet daar teruggegaan word om die trauma van ons kinderjare te genees.

“Ons mans het genesing nodig. Ons mans moet die geleentheid gegun word om die emosies rondom die trauma van hul kinderjare uit te druk en vroue kan hierdie ruimte aan mans bied.”

Marian Nieuwoudt, wykraadslid in Brackenfell en voorsitter van Subraad 2, het haar hoop op Vrouedag uitgespreek as een waarin die huidige negatiwiteit in die land omgedraai kan word.

“Dit gaan moeilik in ons land, maar dit is ook ’n tyd van sterk word en karakter bou. Die waarde van ’n vrou lê in dit wat sy vir ander kan wees,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article