Vredenberg se buurtwag het die afgelope paar weke self ingespring om hul area te verfraai. Hulle het toestemming van hul raadslid, Annelize van Zyl, verkry en onder meer hierdie bordjie opgerig, onkruid uitgehaal en plante geplant.


Vir die Vredenberg-buurtwag is rondsit en kla oor die munisipaliteit nie meer ’n opsie nie – hulle spring sommer self in om die buurt te verfraai.

“Ons het een aand by ’n vergadering gesit en besluit hoe ons die buurt meer betrokke by die buurtwag kan maak en hoe ons die buurtwag meer prominent kan maak,” sê Marius Kuun, voorsitter van die buurtwag.

Toe besluit hulle om skoon te maak.

Die groep het so twee maande gelede begin om al langs Saasveldstraat te begin skoonmaak, waar hulle onder meer onkruid uitgetrek het.

“Dit het maar sleg gelyk.”

Hulle het toe skenkings van klippe en droogtebestande plante ingesamel en dié ook geplant.

Een van hul ander groot projekte was om ’n bord te laat aanbring, waarop die buurt se naam staan.

“As mense van Vredenberg praat, dan dink hulle aan die dorp Vredenburg langs die Weskus.”

Dit was meestal buurtwaglede wat saamgewerk het om die projek op die been te bring en party het selfs buite-werkers betaal om te kom help werk.

Kuun sê hulle wil nou die Clove-parkie in die buurt ook regruk en dit is ook nou tyd om weer “onkruid te skoffel”.

Die buurtwag is deel van die Old Oak-belastingbetalersvereniging, wat ook inwoners van Oak Glen, La Rochelle, Blommendal en Blomtuin verteenwoordig.

Nog geleenthede

Pieter Brits, sekretaris van die vereniging, sê die buurtwag se inisiatief het hom baie geïnspireer.

“Dit is asof die hele gemeenskap hande gevat en gesê het hulle wil die buurt laat mooi lyk,” sê hy.

Hulle wil al die buurte in hul gebied só regruk. “As almal net hande vat en saamstaan, sal ons ’n pragtige buurt hê. En ons wil hê die hele gemeenskap moet betrokke raak.”

Annelize van Zyl, plaaslike raadslid, is oor al die besluite genader en het self gehelp om die rompslomp van die Stad se kant uitgesorteer te kry.

“Ek het baie waardering vir die Vredenberg-buurtwag, en ander in die wyk, wat eienaarskap neem van hul woonbuurt en hulp en ondersteuning verleen aan die inwoners en myself vir take en aangeleenthede wat eintlik nie hul verantwoordelikheid is nie,” sê sy.

“En hierdie inisiatief is net ’n enkele voorbeeld van dit wat hulle daagliks doen om die woonbuurt te verbeter en ’n samehorigheidsgevoel by die inwoners te kweek.”

Sy nooi ook ander om by die Old Oak-belastingbetalersvereniging aan te sluit om sodoende te help om die Stad verantwoordbaar te hou.

  • Die Belastingbetalersvereniging kom weer op 7 September om 19:00 in die NG kerk La Rochelle bymekaar. Alle inwoners van Old Oak, Vredenburg, Oak Glen, La Rochelle, Blommendal en Blomtuin is welkom. Kontak Brits by britspj@telkomsa.net vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article