Oud-brig. Fanie Brits houvas sy gepubliseerde boeke. Van links is In die skadu van die galg, Op pad na die galg en Die galg was hul voorland, wat pas gepubliseer is.FOTO: Nielen de Klerk


Dit is ’n verhaal wat genoeg is om enigiemand te laat regop sit: die smokkel van diamante, die raaiselagtige dood van ’n tienermeisie, die sameswering om haar moord te verbloem en ’n hardnekkige speurder wat jare later die saak aangevat het om alles oop te vlek.

In die 40’s en 50’s was dit immers so sensasioneel dat die naam Bettie Smith en die raaisel rondom haar dood vir jare lank op almal se lippe was.

Die storie het ’n manier om jou in te sluk, beaam oud-brig. Fanie Brits, wat pas ’n boek oor die saak gepubliseer het – Hul voorland was die galg.

“Dit het my so aangegryp dat ek slapelose nagte daaroor gehad het.”

Brits het juis ’n aanvoeling vir ’n goeie en deeglike polisiewerk, want waar hy nie self hoëprofiel-misdade ondersoek of laat ondersoek het nie, het hy daaroor geskryf, met indiepte kennis soos min.

Brits, ’n skrywer van Bellair in Bellville, was onder meer speurhoof by Stellenbosch en bevelvoerder van die destydse Wes-Kaapse moord- en roofeenheid, wat in Bishop Lavis geleë was.

Hy het voorheen twee ander boeke, Hul voorland was die galg (2017) en Op pad na die galg (2020) gepubliseer.

Albei het hoëprofielondersoeke in die Wes-Kaap uitgelig, met inligting oor sake soos die kruisboogmoord en skêrmoord wat hy direk uit dossiere of by ondersoekbeamptes kon kry.

Dit was juis so vyf jaar gelede toe hy besig was met die tweede boek dat hy deur ’n ou kennis, adv. Johnnie Vermeulen, genader is. Johnnie se pa, Dirk Vermeulen, het in die vyftigerjare die Bettie Smith-sage ondersoek nadat dit vir byna 10 jaar onopgelos gebly het.

Johnnie het nog al sy pa se notas en memoires oor die saak gehad en het gevoel daar moet afsluiting vir die saak gebring word.

Brits was aanvanklik nie so ywerig nie, maar het stelselmatig aan die dokumente begin lees, en kort voor lank kon hy dit nie neersit nie.

Bettie Smith (16) is die laaste keer op 11 April 1942 lewend in Nuwerus gesien, waar sy in die koshuis was. Daardie aand was sy by ’n opvoering van Die Bekeerde Jodin, voordat sy spoorloos verdwyn het.

Haar lyk is die volgende oggend, sowat 5 km van die kerksaal, gekry. Haar nuwe horlosie, skoene en kouse was alles skoonveld.

In 1942 het sake heel anders gelyk as vandag – iets wat ’n hele nuwe dimensie aan die boek verleen. Daar was nog die doodstraf, ’n juriestelsel, die N7 was nog ’n grondpad en daar was nie lykshuise nie, wat beteken mense is so gou moontlik begrawe – veral in die warm Namakwalandse son.

Die nadoodse ondersoek, wat deur die dokter gedoen is, het getoon Smith is 5 km ver meegesleur – deur verskeie doringdrade, omdat dit die vorige aand vir die eerste keer in maande gereën het.

Tog was haar lyf sonder skrape en haar rok nog wit, ten spyte van die klippe wat orals daar rondgelê het.

Die saak is afgehandel. Die polisie het beslis Smith het verdrink.

Die gemeenskap het egter aanhou mor en die polisie het in 1952 vir speursers. Dirk Vermeulen gestuur om die saak te ondersoek.

Hy het weer met al die getuies gepraat, al was party sleutelgetuies dood. Smith se lyk is selfs opgegrawe.

Ná maande se speurwerk is Johannes (Jopie) Louw (37), John Krohn (49) en Andries Brink (55) in hegtenis geneem.

In Brits se boek wys hy hoe Dirk ’n hele sameswering rondom diamante oopvlek, wat heel moontlik tot haar dood gelei het.

Tog, ten spyte van oorweldigende bewyse, is die drie beskuldigdes deur ’n jurie onskuldig bevind.

Brits glo Vermeulen kon nooit afsluiting kry oor die saak nie.

Daarom moes hy die boek skryf – ook om Bettie Smith se spook te laat rus. Die waarheid is uit.

In die boek gee hy ook agtergrondinligting en konteks oor die diamantsmokkelbedryf in Suid-Afrika, wat dikwels ongesiens gaan in ’n land met meer kontakmisdade. Hy vertel meer van die merkwaardige Vermeulen-familie en hul tragedies.

Brits sê niks sou moontlik wees sonder sy vrou, Sue, nie.

Hy kan nie ’n rekenaar baie goed gebruik nie en het die boek met die hand geskryf. Sue het alles oorgetik en geproeflees.

Oor nog ’n boek, is hul albei dit eens: Hy is nou klaar geskryf. Maar dalk kom daar weer ’n spook wat berusting moet vind.

Hul voorland was die galg is teen R230 beskikbaar en kan, soos die ander boeke, direk by Brits gekoop word. Die eerste boek, In die skadu van die galg, kos R220 en die tweede, Op pad na die galg kos R230. Indien al drie boeke saam bestel word, kos die pakket R600. Bestel by Brits by 021 919 2939, 082 875 2028 of fansu@telkomsa.net.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article