Plakkers langs die kanaal agter Netcare Kuilsrivier-hospitaal.FOTO: Carina Roux


Die organisasie Friends of Durbanville het hom verlede week tot sosiale media gewend om inwoners te versoek om met klagtes oor die straatmense in Baxterstraat vorendag te kom.

Louie Storm, voorsitter, sê hy het bykans 30 dubbelbladsye met klagtes ontvang, wat aan die Stad Kaapstad se regsafdeling oorhandig sou word.

Dit het gekom ná ’n onlangse vergadering van die Laerskool Durbanville – wat net oorkant die “tentbewoners” geleë is en toenemend onder misdaad gebuk gaan – met die Stad se regsafdeling, waarin die skool versoek is om bewyse van insidente te verskaf.

Volgens Pierre du Toit, skoolhoof, vergader die skool gereeld met verskeie rolspelers in ’n poging om die situasie te verbeter en ondersteuning te kry.

“Sedert 2020 is daar ’n eksponensiële toename in ongemagtigde toegang tot ons skoolterrein, veral oor vakansies en naweke, waartydens vandalisme, inbrake en diefstal plaasvind,” sê hy.

Eksplisiete gedrag

“Ons eerste prioriteit is om ons kinders veilig te hou – nie net fisiek nie, maar ook emosioneel. Ons kinders word blootgestel aan eksplisiete gedrag van buite ons skoolterrein. Ondersteuning van relevante rolspelers om hierdie situasies te voorkom of te beredder, is uiters beperk,” sê hy.

Die skool het die afgelope twee jaar meer as R1 miljoen spandeer aan die verbetering van sy heinings.

In ’n poging om die skoolterrein te beveilig, asook met die oog op verdere uitbreiding van die skool se fasiliteite, het die skool onlangs aansoek gedoen om die gebruik van omliggende grond.

“Die terugvoer wat ons ontvang het, is dat sekere erwe se aansoek nie deur die subraad ondersteun word nie, aangesien hulle dit oormerk vir addisionele parkering. Dit bly ‘n groot bekommernis dat ons kinders se veiligheid nie te alle tye voorkeur geniet nie,” sê hy.

Volgens Theresa Uys, raadslid vir Wyk 112, asook burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, is prosesse in ’n gevorderde stadium om ’n uitsettingsbevel te bekom om die “tentbewoners” te verskuif.

Nuwe intrekkers

Volgens haar word daar tans, in samewerking met MES bykomende plek vir dié straatmense by ’n Bellville-skuiling gemaak. Sy sê daar is voortdurend nuwe intrekkers in Baxterstraat – die jongste twee straatmense van die Paarl. “Die meeste van die inwoners daar is van elders – van Wallacedene en elders. Dis lankal nie meer net die groepie wat in die grendeltyd daar gebly het nie,” sê sy.

Druk is ook toegepas met ’n petisie wat ’n buurtwaglid, Richard Downing, sowat ’n maand gelede opgestel en aan Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en Geordin Hill-Lewis, Kaapstadse burgemeester, oorhandig het.

Mense wat nog insidente of sake wil rapporteer aan Friends of Durbanville kan Louie Storm by chair@friendsofdurbanville.org.za kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article