Die span Bucking Broncos bestaan uit (van links) Marius Erasmus, Karlien Scholtz en Howard Warrington. Hulle het R31 000 vir die DBV se perde-eenheid ingesamel met hul deelname aan die Trans-Baviaans-bergfietswedren.

Verskaf Credit: cr

Hy en sy medefietsryers ly almal aan “fear of missing out” of “Fomo” soos dit algemeen bekend staan, sê Marius Erasmus, hoof van die Alta du Toitskool wat onlangs die Trans-Baviaans-bergfietsuitdaging voltooi het.

Erasmus en sy “Bucking Broncos”-spanmaats, Karlien Scholtz en Howard Warrington, het met hul deelname R31 000 vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se perdesorgeenheid ingesamel.

Erasmus en Scholtz het in Mei ook ’n gedeelte van die swemtog tussen Robbeneiland en Bloubergstrand geswem.

Warrington het dié langafstand-swemtog vir die 100ste keer afgelê. Daar is toe meer as R100 000 vir die DBV ingesamel, sê Erasmus.

Die span Bucking Broncos het op Saterdag 20 Augustus om 08:00 op die 230 km-roete deur die Baviaanskloof tussen Willowmore en Jeffreysbaai weggespring.

Deelnemers aan die Trans-Baviaans moet die roete, wat ongemerk is, binne 24 uur voltooi. Daar word dus in die donker ook gery.

Erasmus sê dit was ’n ervaring, maar die weer was goor.

“Ons moes gereeld stop omdat die wiele nie meer wou draai weens al die modder nie.”

Die Bucking Broncos het die Sondag om 02:00 die eindstreep bereik.

Erasmus sê hulle is eintlik maar net ’n klomp “ou toppies” wat niks wil mis nie en as diereliefhebbers samel hulle dan ook graag geld in vir die DBV.

Volgende aan die beurt is die Double Century (202 km) by Swellendam, sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article