Die Visfabriek is tien jaar oud.


Die naam Visfabriek is sinoniem met vingerleklekker vars seekos en bevrore voedsel teen pryse wat almal se sak pas.

Vandeesmaand vier die suksesvolle familieonderneming sy 10de bestaansjaar, ’n mylpaal wat die eienaars Sebastian en Juanita Duarttee toeskryf aan goeie klantediens en die familie-atmosfeer wat eie is aan die winkels.

Met gesamentlik 20 jaar in die vis- en hoenderbedryf is die egpaar deur hul oud-mentor Gorden Ludski geïnspireer om die onderneming ná sy aftrede te begin.

“Hy het ons alles geleer wat ons weet,” sê Juanita, wat die eerste winkel in 2012 in Brackenfell oopgemaak het. Sebastian, wat toe nog elders gewerk het, het twee jaar later by haar aangesluit.

Vandag spog hulle met 57 winkels en sowat 500 werknemers reg oor die Wes-Kaap.

“Aangesien ons self weet wat dit is om te sukkel, was dit ons doelstelling van die begin af om voedsel te verskaf teen bekostigbare pryse en ook om werk te verskaf in ’n land waar werkloosheid groot is,” sê Juanita.

Ná die wenresep van die eerste ses winkels het die Visfabriek vinnig gegroei en op aandrang van die publiek is meer en meer winkels oopgemaak.

Oor die 10 jaar mylpaal is die Duarttees baie dankbaar.

“Ons is baie dankbaar oor hoe vinnig die Visfabriek gegroei het. As dit nie vir ons Hemelse Vader was wat ons elke dag seën nie, sou ons dit nooit kon doen nie,” sê Juanita.

Hulle kyk opgewonde vorentoe.

“Ons wil graag verder uitbrei, en omdat ons ’n familieonderneming is wat omgee vir ons klante en die gemeenskap, poog ons om ’n huishoudelike naam te word.”

Die familie bly toegewyd om die beste produkte en diens aan hul klante te voorsien.

“Ons maak ’n belofte dat ons altyd die beste produkte teen bekostigbare pryse sal verskaf. Elke klant word as familie van die Visfabriek beskou,” sê sy.

Oor die afgelope dekade het die onderneming vir meer as 500 mense werk geskep asook ’n organisasie van stapel gestuur waar gereeld sowat 700 mense per dag gevoed word.

En ná 10 jaar is Sebastian en Juanita nog net so nederig soos op dag een.

“Ons werk fisiek saam met ons werkers en geniet wat ons doen. Ons beplan nog jare van sukses. Ons bedank ons verskaffers vir hul dienste oor die 10 jaar; sonder julle sou ons nie ’n sukses kon wees nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article