Die polisie se taakspan teen provinsiale georganiseerde misdaad en ontvoering is besig met ’n ondersoek na ’n voorval waarin ’n 35-jarige vrou Donderdag 29 September omstreeks 10:05 in Ipswitchstraat, naby Saxdowneweg, Blackheath, ontvoer is.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het Vrydag bevestig die ontvoerde vrou is Anichka Penev, ’n Oekraïense burger.
Sy was ten tyde van die voorval alleen in haar voertuig.
Die ontvoering het voor die ingang van Nioro Plastics gebeur.
’n Video van die voorval wat deur die onderneming se veiligheidskameras opgeneem is, is wyd op sosialemedia-platforms versprei.
Video of the kidnapping in Cape Town. https://t.co/WpkTaHHoEq pic.twitter.com/Lg5ddPMayH
— Yusuf Abramjee (@Abramjee) September 29, 2022
Daarin kan gesien word hoe die vrou se geel Audi R8 met ’n verpersoonlikte nommerplaat vanuit Saxdowneweg indraai in Ipswitchstraat.
Naby Nioro se ingang word die Audi tot stilstand gedwing deur ’n voertuig wat kort voor die Audi in Ipswitchstraat ingedraai en omgedraai het om die Audi kop-aan-kop voor te keer.
’n Tweede voertuig stop dan reg agter die Audi. Twee mans nader die bestuurderskant van die Audi waarna die vrou by die passasierskant uitklim, maar deur ’n derde man wat uit die agterste voertuig geklim het, gegryp word.
Na ’n struweling word sy in die agterste voertuig ingedwing wat kort daarna in die rigting van Blue Downs wegry.
Die hele voorval duur net meer as twee minute. Enigeen met inligting kan die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 kontak.





