Ná sewe jaar van wag en pleit het inwoners nou verneem daar is nie geld in die Stad se koffers vir nuwe speelapparaat vir ’n openbare park in Bonnie Brae nie.
Ongelukkige inwoners sê dié park in Tafelbergweg is die enigste plek waar hul kinders veilig kan speel omdat dit te onveilig is om na ander parke in die omgewing te stap.
In die afgeleefde parkie, wat tot onlangs nog oorgroei en oortrek was van duwweltjies, staan ’n stukkende glyplank wat plek-plek verroes is, en ’n rondomtalie in ’n gehawende toestand.
“Van die beloftes in 2015 van ’n wipplank en ’n nuwe klimraam het niks gekom nie. Die geroeste glyplank is in dié stadium gevaarlik en ek vrees ’n kind kan daarop seerkry. Ook die gras in die park word ongereeld gesny en die dorings maak die park onbegaanbaar. Dit word bespuit, maar dis ’n mors van belastinggeld, want dis nie doeltreffend nie – ons het die hele jaar lank dorings,” sê Martie Binneman, ’n inwoner.
Volgens haar sny die inwoners self die gras, maar die gras is sedert Maart vanjaar nog nie gesny nie. Die takke van ’n palmboom, wat maande terug gesnoei is, is nou nog nie deur kontrakteurs verwyder nie.
“Dit het in 2014 begin toe ons die gebreekte hout-klimraam in die park aangemeld het. Dit is toe verwyder en ons is meegedeel die volgende stap sou ’n nuwe klimraam wees. Die klimraam is egter nooit vervang nie, maar ’n rondomtalie is opgesit, wat nou ook al gehawend is, want daar is min waarop die kinders kan speel.
“In 2015 is ons belowe dat die park opgeknap sou word en ons is ook belowe dat ’n wipplank opgesit sou word, maar dit het nooit gebeur nie. Toe ek onlangs weer e-posse begin stuur het, is dit geïgnoreer,” sê sy.
“Ek is baie ongelukkig en voel as belastingbetaler moet ons parke behoorlik in stand gehou word.”
Gerhard Fourie, die voorsitter van Subraad 7, het in 2015 aan Binneman gemeld slegs R700 000 per jaar word vir ’n wykstoelaag in die betrokke wyk, wyk 103, begroot.
“Hoewel ek die behoefte aan parktoerusting verstaan, gaan dit bloot oor geld. Soms gebeur dit dat iets wel in die begroting is, maar later verwyder word weens nood of meer dringende behoeftes.”
In die betrokke jaar is R100 000 aan spoedkalmering bestee, R200 000 vir ’n wetstoepassingsbeampte, R150 000 aan verbeterings by Kraaifontein se sportterrein; R90 000 aan parkverbeterings en R120 000 vir die verlenging van ’n sypaadjie in Mosselbankstraat, waar kinders moet skool toe stap.
Volgens Fourie was die fokus op die drie sportfasiliteite in die wyk.
“Ons fokus is om hierdie streek se parke so spoedig moontlik op te knap. Indien die parke-afdeling dalk geld in sy begroting het, en dit dalk op sy lys is, kan dit uitgevoer word,” het hy in 2015 skriftelik aan Binneman gemeld.
In antwoord op ’n medianavraag het Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, verlede week aan TygerBurger gesê die stad het nou (ná TygerBurger se medianavraag) die gras in die park gesny en die plantmateriaal verwyder.
Verder het sy bevestig die speelapparaat is op ’n lys om reggemaak te word sodra ’n tenderproses afgehandel en ’n kontrakteur aangestel is.
“Die parkeafdeling sal ook die toestand van die speelapparaat nagaan om vas te stel of dit gevaarlik is, en indien wel, sal dit reggestel word,” sê sy.
Die wipplank en klimraam sal egter nog moet wag, want volgens Van der Ross het die departement steeds nie geld om vanjaar enige nuwe apparate vir die park te koop nie.
Geen kommentaar is egter gelewer oor waarom die munisipaliteit nie tussen 2015 en 2020 geld vir die park se herstelwerk bewillig het nie.





