Parow-pianis die naaswenner in musiekkompetisie

Eléna Monvoisin, ’n pianis van Loevenstein, met Linda Claassen, haar musiekinstrukteur.


Eléna Monvoisin, ’n pianis van Loevenstein, het onlangs die tweede plek behaal in die South African Music Rights Organisation (Samro) Hubert van der Spuy-musiekkompetisie.

Die eindronde is op Vrydag 30 September by die Hugo Lambrechts-musieksentrum in Parow gehou.

Eléna (12) is die afgelope agt jaar ’n student van Linda Claassen, ’n musiekinstrukteur.

“Sy het al verskeie kere saam met die Kaapstadse Simfonie-orkes, asook die Hugo Lambrechts-orkes, opgetree,” sê Claassen.

Eléna het vanjaar ’n silwermedalje by die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod gewen, asook verskeie pryse by die Tygerberg- en Stellenbosch-eisteddfods. Sy het ook haar Unisa–graad 6-klaviereksamen met 92% geslaag.

“By die afgelope Samro Hubert van der Spuy-musiekkompetisie het sy die algeheel tweede plek behaal, die prys ontvang vir die beste vertolking van ’n romantiese werk en is as die beste deelnemer in die Tygerberg-tak van die Suid Afrikaanse Vereniging van Musiek Onderwysers (Savmo) aangewys,” sê sy.

Eléna het ook die Johann Vos Piccolo-afdeling met hobo gewen. Sy is die eerste hobo-speler in die Hugo Lambrechts-simfonie-orkes en speel ook viool.

Eléna ontvang tuisonderrig.

Haar ma, Marguerite Monvoisin, sê sy is ongelooflik trots op Eléna.

“Sy het baie hard gewerk en met haar hele hart gespeel. Ek is ook so dankbaar vir haar fantastiese onderwyseres, Linda, wat haar so goed ken en ondersteun. Eléna self voel gelukkig en tevrede, en sien uit na volgende jaar se kompetisie,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article