’n Seringboom wat al jare lank ’n doring in ’n ouma se vlees is, gaan uiteindelik verwyder word, het die Stad Kaapstad verlede week bevestig.
Wánneer dit verwyder gaan word, is egter nog ’n ope vraag omdat die tenderproses vir ’n kontrakteur om dit te verwyder, nog voltooi moet word.
Sophia Carlini (76) bly al 40 jaar lank in haar huis in 15de Laan in Boston. Toe sy ingetrek het, was die seringboom (wat uitheems is) al ’n prominente baken tussen haar huis en dié van haar bure.
Maar soos die jare aangestap het, het die wortels van die boom al meer gelig en allerhande probleme veroorsaak. Haar tuinhekkie moet pal reggemaak word omdat die boomwortels dit só teen die pilaar buig en skuif dat die hek nie kan oopmaak nie.
“Selfs die hoekpaal staan skeef en dit staan al sedert ek hier woon.”
Sy kry ook barsies in haar leiklip-plaveisel en in haar huis.
“Leiklip is mos vir altyd en ewig,” sê sy ontsteld.
“Die skade raak net groter en groter.”
Die sypaadjie is boonop skeef en Carlini, wat ’n staatstoelaag kry, sê sy het net nie meer die geld of hoop om alles te herstel wat die boom breek nie.
“Moet ek wag tot my hele huis inmekaar val?”
Sy het haar oor die jare tot verskeie owerhede gewend en het al in 2016 ’n eis by die Stad ingedien, waarna hulle meer as R4 890 uitbetaal het. Hulle het egter destyds benadruk dit is om die situasie op ’n vriendskaplike manier op te klaar en is nie ’n skulderkenning nie.
Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, sê hulle het in April vanjaar die gebied besoek en besluit die boom moet weens sy grootte en hoogte verwyder word.
“Die Stad wag tans vir die tenderproses om voltooi te word sodat die werk kan begin. Nadat die boom verwyder is, sal aan die wortels gewerk en die sypaadjie herstel word.”
Streng regulasies vir verwydering
TygerBurger het vroeër vanjaar oor ’n groep inwoners berig wat slegs twee strate van Carlini af bly en soortgelyke probleme het.
Dié inwoners het egter ’n ander groep bome wat hul probleme veroorsaak – onder meer ’n kamferboom, ’n Java-wildevyboom, ’n Nieu-Seelandse kersboom en ’n suurpruimboom.
Die Stad het egter nie in hul geval besluit om die bome te verwyder nie en Van der Ross het destyds gesê hulle het streng regulasies vir die verwydering van bome.
“Voordat ’n besluit ondersteun word om ’n boom op die Stad se eiendom te verwyder of te vervang, moet alle opsies eers volgens die Stad se boombestuursbeleid oorweeg word. Hierdie bome is in ’n volwasse lewensfase, wat ’n geweldige voordeel vir die voorstede en Stad bied en lyk gesond, al was daar al pogings om hulle te vergiftig.”
Volgens Siseko Mbandezi, burgemeesterskomiteelid vir finansies, mag inwoners ’n eis by die Stad se versekeringsafdeling indien en moet hulle dan ’n vorm met stawende inligting verskaf. Dit sluit onder meer strokies (of kwotasies) in om te bewys die skade is deur die boom veroorsaak. Die Stad verlang ook foto’s van die skade.
“Elke eis word op sy eie meriete geassesseer,” beklemtoon Mbandezi.
“Dit sluit ’n assessering in om te kyk of die Stad nalatig was.”
Hierdie vorm is op die Stad se webtuiste beskikbaar (soek vir “claim or dispute”).
Van der Ross sê Boston het baie bome wat van geskiedkundige waarde vir die Stad is.
“Nuwe bome word geplant wanneer daar ’n behoefte op oop plekke of openbare parke is. Inwoners word versoek om diensversoeke rakende bome deur die Stad se webtuiste aanhangig te maak.





