Twee gewapende rowers wag Brackenfell-vrou by voordeur in

Twee gewapende rowers het ’n vrou by die voordeur van haar woonstel in Brackenfell oorval toe sy in die vroeë oggendure van Sondag by die huis gekom het. Foto: André Damons


Twee gewapende rowers het ’n vrou by die voordeur van haar woonstel in Brackenfell oorval toe sy Sondag vroegoggend by die huis gekom het. 

Die 20-jarige vrou het huis toe gestap nadat sy by ’n vriendin in dieselfde woonkompleks, Simonsberg, in Hasendalstraat  gekuier het. 

“Sy het om ongeveer 02:00 by die huis gekom. By die voordeur het die twee mans haar genader en met ’n vuurwapen die woonstel ingedwing,” sê kapt. Erica Crous, polisiewoordvoerder.

“Die twee onbekende mans het die woonstel deursoek en twee skootrekenaars en ‘n selfoon gevat, waarna hulle te voet gevlug het.”

Geen skote is afgevuur nie en die vrou is nie in die voorval beseer nie.

Die saak word deur die Brackenfell-polisie ondersoek.

.  

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article