Privaat vervoerverskaffers in Delft lewe in vrees vir taxi-operateurs wat hulle “tax” om daar te ry.
Ubers, skool- en personeelvervoer, of enige vervoer wat nie ’n taxi is nie, moet betaal vir die voorreg om in Delft rond te ry.
Volgens Charles George, ’n plaaslike gemeenskapswerker, staan “belastinggaarders” by die verkeersirkels in Delft en trek voertuie af.
“Van hier word jy na die Delft-taxistaanplek geneem en aangehou. Kontrakteurs wat kinders skool toe of nagwerkers na hul onderskeie werksplekke toe ry, moet R1 500 betaal sodat die voertuig gelos kan word. Bestuurders van Uber en ander huurmotors moet R1 500 betaal om los te kom,” sê George.
Brood uit mond gevat
George sê hierdie soort voorvalle plaas ’n reeds verarmde gemeenskap onder geweldige druk.
“Vervoer is een van die belangrikste aspekte om ’n funksionerende ekonomie aan die gang te hou en as dit onder druk kom, gaan die gemeenskap ly. Die kontrakteurs is ook klein ondernemings wat probeer om die pot aan die kook te hou deur kinders of werkers te vervoer. Hoe kan dit toegelaat word dat taxibendes hierdie mense se brood uit hul mond vat?
“Baie van die mense wat van hierdie dienste gebruik maak, vorm deel van belangrike dienste soos verpleging. Delft is so afgesonder van groot sentra dat hierdie mense op hul nagskof van Ubers of kontrakteurs afhanklik is. Wat as hulle nie by hul werk kan uitkom nie? Dan ly dieselfde gemeenskap daaronder, of hulle verloor hul werk en word deel van hierdie moedelose, werklose gemeenskap,” sê George.
Minibus afgevat
In ’n WhatsApp-boodskap wat TygerBurger onder oë gehad het skryf ’n desperate vrou dat hulle aangehou word.
Kapt. John Bartlett, woordvoerder van die Delft-polisie, sê hulle is net bewus van een voorval waarin iemand se minibus afgevat is.
“Hy het aan die polisie gesê hy het nie gebel nie en dat hy nie ’n saak wil maak nie. Vir die polisie om hierdie misdaad te stop, moet slagoffers sake aanhangig maak.”





