Polisie het ‘nog niks gedoen’ 21 maande nadat vriendin in botsing sterf

Christel Beukes en Mari van Schalkwyk (11). Beukes het by die Van Schalkwyk-gesin gebraai op die aand wat sy in ‘n motorongeluk dood is.


’n Jaar en ’n half nadat Christel Beukes (42) in ’n motorongeluk dood is, wag haar vriende steeds vir uitsluitsel oor wat die betrokke aand in die ongeluk gebeur het.

Hulle het dadelik vermoed die ander bestuurder, Fanie Gous (28), het onder die invloed van drank bestuur, maar het nog geen antwoord van die polisie gekry oor of hierdie die geval is en indien wel, hoekom hy nog nie in hegtenis geneem is nie.

Gous is wel intussen vir dronkbestuur in hegtenis geneem en het voorverlede Dinsdag in die hof verskyn, maar dié klag spruit uit ’n voorval wat in 2013 plaasgevind het.

Beukes, ’n prokureur wat in Rondebosch gebly het, is in Februarie verlede jaar in Stellenridge oorlede.

Sy het die betrokke aand by ’n vriendin gebraai en was op pad huis toe toe sy 400 m van die vriendin se huis in ’n ongeluk op die hoek van Old Oak-weg en Sonneblomstraat/Panorama-rylaan betrokke was.

Sy is op die toneel dood.

Gous, wat ’n Toyota Fortuner bestuur het, is na die hospitaal gehaas, waar hy vir minstens ses weke aangesterk het.

’n Video-opname van die ongeluk, wat in die TygerBurger se besit is, wys hoe Beukes uit Sonneblomstraat beweeg om regs in Old Oak-weg te draai, waarna die Fortuner van die N1 se rigting aangery kom en reguit in die passasierskant vasry.

Verskeie ooggetuies het hulle na die toneel gehaas om te help, maar dit was te laat.

Medelye vir Beukes het dadelik ingestroom, met vriende en kollegas wat haar as geliefd, toegewyd en iemand met integriteit beskryf het.

Bloed laat ys

Twee prokureursvriende, Christel du Preez en Robbie Reddering, het binne dae met die privaat speurder in verbinding getree om die saak te help ondersoek en die polisie by te staan waar nodig. ’n Familielid het die koste gedek.

Die inligting wat intussen aan die lig gekom het, het hul bloed laat ys.

Gous, wat in Bellville grootgeword het en steeds bly, het al sedert minstens 2013 nie ’n bestuurderslisensie nie.

Die ongeluk, waarin Beukes dood is, is minstens die tweede waarin hy sedert 2015 betrokke was.

Hy is boonop in 2012 én in 2013 vir dronkbestuur in hegtenis geneem en daar is vir die 2013-geval ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik. Tog is hy eers ’n paar dae gelede hiervoor in hegtenis geneem – agt jaar nadat die voorval gebeur het.

In die private ondersoek het die speurder met vyf ooggetuies gepraat en hul verklarings gekry. Hulle sê hulle is nie een deur die polisie genader nie.

Baie sê in hul verklarings wat die speurder geneem het, hulle het Gous die aand van dronkbestuur verdink.

‘Kan niks onthou nie’

Die privaat speurder is ook na die perseel in Brackenfell, waar Gous na bewering die betrokke aand gekuier het om sy aksienetbalspan se prestasie te vier. Daar was ’n kamera-opname wat in die ondersoek kon help, maar die polisie het nie kontak gemaak nie en dit is ’n paar dae later outomaties uitgevee.

Al die bevindings is al in Oktober verlede jaar aan die polisie gegee. Sedertdien is die enigste sigbare vordering die man se inhegtenisneming vir die 2013-saak en sy hofverskyning verlede week.

Gous het nie op oproepe of Whatsapp-navrae om kommentaar gereageer nie. Whatsapp wys wel hy het die boodskappe gelees.

Sy pa, Frede, het gesê hy wil glad nie betrokke raak nie en dat dit geen doel dien om met Fanie te praat nie omdat hy weens die ongeluk “niks kan onthou nie”.

Hy het gesê Fanie maak meestal van Uber gebruik, omdat hy nie ’n lisensie het nie – ook dat Fanie sukkel om te slaap en baie angs ervaar, vermoedelik oor die ongeluk.

Die besigheid waar hy gewerk het en wat sy pa besit het, Bellville Cycles, het ook vroeër vanjaar sy deure gesluit.

Intussen probeer Beukes se vriendinne die stukke in hul lewens optel. Die vriendin by wie sy gekuier het voor sy dood is, Liezl van Schalkwyk, sê Beukes was deel van hul gesin.

“(Sy was) meer soos ’n suster as ’n vriendin. (’n Mens) kon haar altyd deur ’n ring trek. Ons was en is ongelooflik lief vir haar.

Sy sê Beukes was baie privaat en ’n uitstekende prokureur. Sy het ten tyde van haar dood in familiereg by Miller du Toit Cloete Incorporated in Kaapstad gewerk.

Du Preez het destyds gesê Beukes was lief vir haar katte, skryf, draf, reis, koffie en berge.

Fanie Gous

Vir albei is die ooglopende gebrek aan vordering ontstellend.

“Ons voel verbitterd dat daar nog niks van die storie gekom het nie,” sê Van Schalkwyk.

“Dis asof die ongeluk gebeur het en die persoon betrokke het net aangegaan asof niks gebeur het nie. Ek is seker enige mens wat iemand op so ’n manier aan die dood afgestaan het, sou wou justice hê.”

Polisie se antwoord

Die polisie het intussen gesê hulle het tot onlangs toe vir die uitslae van bloedtoetse gewag.

Lt.kol. Fienie Nimb, woordvoerder van die Bellville-polisiekantoor, sê wanneer daar vermoed word dat mense ten tye van ’n ongeluk alkohol ingeneem het, word bloedtoetse gedoen. Indien die lesing te hoog is, word die persoon dan op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem.

“Omdat die persoon so ernstig beseer is, kon gewone prosedure nie gevolg word nie,” sê sy.

Sy sê al die privaat speurder se bykomende verklarings sal by die dossier gevoeg word indien daar ’n saak van dronkbestuur geopen word.

Die uitslag van die bloedtoets, wat nou eers beskikbaar is, is nie buitengewoon nie, sê sy. Sy sê mense wat ontevrede is, moet die Onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat om hulp nader.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article