‘Die syfers is skokkend hoog’: 16 Dae-veldtog skop af in Brackenfell met kleurwedloop

Net voor die wegspring Sondagoggend. FOTO: Colette Henning

Credit: SYSTEM

Met haar wit trourok gevlek met pers poeier, het Karen Bryant Sondag ’n 5 km-wedloop met ’n sterk boodskap gehardloop: Nee vir huweliksmishandeling!

Karen was een van sowat 150 mense wat deelgeneem het aan die kleurwedloop in die Bottelary-omgewing om die Brackenfell-polisie se 16 Dae-veldtog vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders van stapel te stuur.

Die wedloop het Sondag om 08:00 by die Palms Restaurant begin.

Vir die wegspring het deelnemers, almal in wit geklee, bakkies pers poeier die lug in gegooi as ’n simboliese gebaar. Pers is die bewusmakingskleur vir huishoudelike geweld.

Karen, ’n slagoffer van huweliksmishandeling, is in April vanjaar geskei.

“Ek is verbaal mishandel. Deur vandag my spierwit trourok met pers poeier aan te trek, sluit ek ’n hoofstuk van my lewe af. Vandag sit ek die nagmerrie finaal agter my,” sê sy.

Bewusmaking

Dié jaarlikse veldtog is daarop toegespits om bewusmaking te kweek van geslagsgebaseerde geweld, waarvan huishoudelike geweld in enige vorm ’n groot deel vorm.

Kol. Patrick Jacobs, bevelvoerder van sigbare polisiëring in Brackenfell, wat aan die wedloop deelgeneem het, sê daar het baie deur sy gedagtes gespoel tydens die 5 km-roete.

“Gesinsgeweld het ’n begin- en eindpunt. Die strawwe bulte was simbolies van die opdraande pad wat vroue wat slagoffers is van gesinsgeweld, moet loop todat hulle nee sê. Maar as jy bo is en jy begin weer afstap, is jou bene en voete nog steeds seer en sal môre ook seker seer wees. Dis soos die pyn van gesinsgeweld wat ’n vrou vir jare sal saamdra,” sê hy. Jacobs sê die omvang van gesinsgeweld is groot.

“Maar omdat so baie vroue nooit gesinsgeweld rapporteer nie, het ons nie akkurate syfers nie. Sake wat wel aangemeld word, word as aanrandings aangeteken,” sê hy.

Hy het sy skok uitgespreek oor die huidige verkragtingsyfer in die Wes-kaap. In Julie en September vanjaar is 1 233 verkragtings in die provinsie gerapporteer.

“Die syfers is skokkend hoog,” sê Jacobs.

Nader aan die huis is vyf verkragtings in dié tydperk in Brackenfell gerapporteer – 15 in Bellville, agt in Durbanville en 52 in Kraaifontein. Kol. Jakobus Marthinus, bevelvoerder van Brackenfell-polisie, sê die veldtog behoort vir 365 dae van die jaar te geld.

“Vroue het die reg om enige vorm van geweld teen hulle by enige polisiekantoor, binne of buite die gebied waar hulle bly, aan te meld – dag of nag,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article