AO Jacques Mostert van die Bothasig-polisie tree vandag ná 40 jaar uit die diens.FOTO: Richard Roberts


Ná 41 jaar in die polisiediens lê AO Jacques Mostert (60) van die Bothasig-polisiekantoor vandag amptelik die tuig neer.

Mostert is sedert 2014 die skakelbeampte by dié polisiekantoor in Steenovenstraat in Bothasig.

Hy sê die ding wat hy die meeste gaan mis, is om saam met mense te werk.

“By Bothasig is dit ’n gemeenskap wat ek nog nie by enige ander polisiekantoor ervaar het. Ek kan die ouens hier net komplimenteer, die buurtwagte, sekerheidsfirmas en besighede.

“Niemand het ’n probleem om met ons as polisie saam te werk en om misdaad in die gebied te help bekamp nie.

“Ek hou van mense, en hou daarvan om saam met mense te werk. Selfs as instrukteur. Dit is wat ek die meeste geniet en wat ek ook gaan mis.”

Loopbaangeskiedenis

Mostert, ’n pa van twee, se loopbaan as lid van die polisie het by die spoorweg-polisie in 1981 begin.

“Ek wou eintlik ’n prokureur geword en in die regte gaan studeer het.”

Daar het hy ook diens by die destydse Louis Botha-lughawe in Durban en D.F. Malan-lughawe in Kaapstad verrig voordat die eenheid met die polisie saamgesmelt het. Mostert was ook van 1984 tot 1986 ’n vuurwapen- en drilinstrukteur in Gauteng.

Ná dit het hy by die Parow-polisie aangesluit, waar hy altesame 27 jaar lank gewerk het voordat hy in 2014 by die Bothasig-polisie as kommunikasiebeampte aangesluit het.

“By Parow het ons die heel eerste gemeenskapspolisiëringsforum se komitee gestig. Ons het polisiegeskiedenis gemaak, ook met die skuif van die ou polisiemag na die nuwe polisiediens.

“Dit was vir my lekker gewees – iets ten goede van die land.

“Ons het saam met die land se wette verander, en was deel van die land se geskiedenis.”

Oor die jare heen was hy ook lid van die polisie se maatskaplike misdaadvoorkomingspan, en het hy ook skofte gewerk, ook as lid by Bothasig.

Mostert het ook beskermingsdienste verrig, onder meer vir die Australiese netbalspan wat in 2005 in Suid-Afrika kom toer het.

Selfs met die tweede inhuldiging van oudpresident Thabo Mbeki was hy persoonlik verantwoordelik vir Mbeki se veiligheid. Hy was ook aan diens met die heel laaste parlementsopening in 2019, voor die vernietigende brand groot skade aan die gebou aangerig het.

“Ek was ook deel van Operasie Neptune, waar ons onder ’n dekmantel gewerk het om perlemoenstropers in Pearly Beach en Hermanus vas te trek. Dit was lekker. Ek het gaan werk daar, nie met vakansie gegaan nie.”

Nog geen groot planne vir ná aftrede

Hoewel hy nog nie enige groot planne vir sy aftrede het nie, beplan hy om eers die klein werkies in en rondom sy huis in Parow-Wes aan te pak.

“Daar is baie goedjies wat ek wil doen,” sê hy.

Hy voeg by: “Ek het ’n paar dinge wat ek wil doen. Ek het ook ’n beste vriend in Engeland, wat ek graag wil besoek.”

Hy beplan ook om as lid van die Merriman Lions-klub aan te bly. Mostert dien tans as streekvoorsitter van dié klub.

“Dit was nie sleg nie; dit was goed. Sommige dae was beter as ander, maar ek het nog nooit ’n slegte dag gehad nie.

“Dit was regtig ’n seëning om daar te kon werk die laaste paar jare. Ek sou nie op ’n ander plek wou werk of afgetree het nie, dit was magic.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article