Die geel lyn wys waar die Stad Jip de Jager-rylaan gaan verbreed.

Credit: SYSTEM

Die lang wag vir die projek om te begin is dalk al verby, maar motoriste kan hulle nou regmaak vir ’n ander soort wag.

Die Stad Kaapstad het Maandag met sy projek van R77 miljoen begin om Jip de Jager-rylaan (M16) in Welgemoed te verbreed sodat daar nou twee bane in elke rigting sal wees.

Indien alles volgens plan verloop, sal hierdie werk byna twee jaar duur en teen Desember 2024 klaar wees.

Dit gaan egter ook plek-plek stadige verkeer beteken.

Rob Quintas, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir vervoer, asook Ronel Viljoen, plaaslike raadslid, vra inwoners om geduldig te wees terwyl die padwerk gedoen word.

“Inwoners moet hul roete beplan. Ons sal die vrugte pluk van die ontwikkeling,” sê Viljoen.

“Die pad word stuksgewys gebou om ontwrigting te voorkom.”

Inwoners kla al vir jare oor die verkeer in Jip de Jager-rylaan, met verkeerspersoneel wat lank gespook het om bestuurders van die geel sperstrepe te hou.

Die Stad het al in die jare sestig beplan om die roete eendag te verbreed indien nodig en het seker gemaak die padreserwes is breed genoeg.

Quintas sê die rylaan, wat ’n hoofroete is wat Durbanville, Welgemoed en Bellville met die N1 verbind, gaan van Kommissarisstraat tot by Van Riebeeckshofweg verbreed word.

Daar gaan onder meer keerwalle opgerig word by ’n deel langs Kommandeurstraat en stap-, sowel as fietsrybane, gaan aangebring word.

“Met ’n groeiende bevolking en meer ontwikkelings in hierdie gebiede is daar ’n groot behoefte om bykomende bane by Jip de Jager-rylaan tot by Van Riebeeckshofweg te voeg sodat die toename in verkeer geakkommodeer kan word,” sê Quintas.

“Dit gaan baie help om die verkeersdruk veral in die oggend- en middagspitstye te verlig.”

Hy sê alle padwerk veroorsaak ’n mate van ontwrigting. “En hoe belangriker die pad, hoe groter die impak. Die beste is om die pad so ver as moontlik te vermy en om vertragings te verwag wanneer motoriste hierdie deel van die pad gebruik.”

Inwoners wat naby bly gaan ook stof- en geraasbesoedeling ervaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article