Vals geld, gesteelde TV’s, dwelms en ’n paartjie wat hul voordoen as gaste.
Soos iets uit ’n fliek het groot drama hom die afgelope twee weke by ten minste twee afsonderlike gastehuise afgespeel, waar ’n paartjie by elkeen waardevolle items gesteel het.
Die twee diewe het egter Sondag hul moses by die Hilltop Guesthouse in Loevenstein teëgekom, waar hulle ten aanskoue van verskeie sekerheidsbeamptes in hegtenis geneem is.
“’n Mens sien altyd hierdie goed met ander mense gebeur en dan dink jy dit sal nooit met jou gebeur nie,” sê Lauren Veary, bestuurder van Hilltop-gastehuis.
Begin van drama
Veary sê hul drama het verlede Donderdag begin toe die paartjie by hul ingeteken het.
Hulle het vooraf aanlyn bespreek en ’n bewys van betaling gestuur, wat later as vals geblyk het.
Die paartjie sou tot Valentynsdag (gister) bly.
Hulle is deur ’n motor by die huis afgelaai en het nie self daarheen ry nie.
“Die eerste rooi vlag was toe hulle nie wou hê ons moet daar skoonmaak nie. Alles was toe. Die gordyne was so dig toegetrek en die man het die deur net op ’n skrefie oopgemaak.”
Dit was egter eers Sondag toe die hele sak patats vorendag kom.
Die eienaars van Hilltop bly in Upington en kan die sekerheidskameras via hul selfone monitor.
Die man het Veary gekontak en gesê hy het toevallig op die kameras ’n vrou gesien wat met ’n sak by ’n vakante kamer instap en later weer uitstap met die sak wat lyk of dit met iets volgelaai is.
Veary is na die kamer toe, wat deur ’n gereelde gas gebruik is. Sy was ontsteld daaroor dat ’n vrou ingekom het by die deur wat gesluit moes wees. Toe sy by die kamer inkom, het sy eers net gesien kos, drank en toiletware wat die man gewoonlik vir skoonmakers los, is weg.
Maar toe sy by die TV kyk, toe sien sy die USB-stokkie om slim-TV te kyk, is skoonveld.
Die eienaar in Upington het vir haar ’n foto van die vrou gestuur en sy het haar herken as een van die paartjie en is na hul kamer.
Dwelms, vals ID, geld
Toe hulle nie antwoord nie, het sy besluit sy moes iets doen.
“Iets sê vir my gaan in.”
Sy het die loper gevat en die deur oopgesluit. Die paartjie was nie daar nie, maar die kamer het haar geskok.
“Ek kan dit nie beskryf nie. Dit het gelyk of ’n bom ontplof het. Oral was drug paraphernalia. Pypies, lampies, naalde oral. Ek kyk so op en die TV is weg. En my moed sak toe in my skoene.”
Veary sien toe die paartjie se tasse is nog daar en is gou uit om die polisie en die sekerheidsdiens Zone Watch te bel.
Zone Watch was vinnig op die toneel en terwyl hulle vir die polisie gewag het, het die paartjie teruggekom.
“Hulle waai toe so ewe vir my”.
Toe hulle egter die sekerheidsbeamptes sien, het hul deuntjie gou verander. Die man het kom sê hy en die vrou het baklei en iemand het iets gegooi, wat die TV gebreek het. Hulle het net die TV gevat om reggemaak te word, het hy gesê.
“’n TV regmaak op ’n Sondag in Bellville?” het Veary geantwoord.
“Toe bly hy net stil.”
Die polisie arresteer toe die twee, waarna hulle mekaar toe begin blameer het vir alles. Hulle het ook herhaaldelik gesê hulle sal vir alles betaal
Hulle is weg, waarna die groot skoonmaak van hul kamer begin het.
Buiten die items wat vir dwelms gebruik is, was daar ook ’n klein drukker en die man se regte identiteitsdokument.
Hulle het ook op die gesteelde USB afgekom en intussen gesien dieselfde items is in ’n ander kamer gesteel.
Die grootste verrassing was egter toe hulle die bed skoonmaak en talle vals note kry.
Ander geval
Die polisie het ’n sterk vermoede die paartjie kan verbind word met ’n soortgelyke saak in Oak Glen. ’n Lamp van die Oak Glen-gastehuis is ook in die Hilltop-gastehuis gevind.
Die eienaar van die gastehuis in Oak Glen wou nie haar naam genoem hê nie.
Sy het wel beaam dat die paartjie vir ’n aand daar oorgeslaap het.
Hulle het ook deur middel van ’n vals bewys van betaling by die gastehuis ingeteken en het dieselfde vals identiteitsdokument gebruik as wat by Hilltop-gastehuis gebruik is.
Hulle is ook deur ’n motor afgelaai en het nie met hul eie vervoer aangekom nie.
Die paartjie se verblyf het stil verloop totdat die eienaar die volgende oggend opgestaan en gesien het een van die hekke is oop. “Toe weet ek net (daar is ingebreek),” sê sy.





