Sandra van Rooyen (49) van Boston het al oor die jare vele produkte gemaak en dienste gelewer in die hoop om ’n ekstra geldjie te maak om al die rekeninge te betaal.
Maar toe hierdie “reeks-entrepreneur”, soos sy haarself noem, sien hoe haar nuutste produk, die Blerrie Lekka ingelegde smaakmiddels, soos soetkoek verkoop, was sy skoon uit die veld geslaan.
Nog meer toe iemand een van die houers Doebai toe vat en vir iemand daar gee om te proe. Dié hou toe so daarvan dat hulle die ekwivalent van byna R3 000 vir die res van die houer aanbied.
Van Rooyen, wat as ’n skoonheidsterapeut van haar huis af werk, sê die produk het eintlik toevallig oor haar pad gekom.
Sy en ’n vriendin kuier gereeld oor kaas en wyn, sê sy. Met een só ’n kuier in Desember 2021 het hulle ’n nuwe produk uitgetoets – ’n olierige smaakmiddel wat nogal krakerig geproe het. Die vriendin vra toe wat die krakerige smaak veroorsaak en Van Rooyen verduidelik toe dat dit die gedroogde uie daarin is.
Die idee het haar bygebly en sy het begin om navorsing oor die sogenaamde Chilli Crunch of Chilli Crisp te doen. Sy het gevind China is veral bekend vir sy weergawes van dié smaakmiddel en dat daar relatief min plekke is wat dit tot nou toe in Suid-Afrika verkoop.
Suksesverhaal
Sy het in die kombuis met verskillende geure begin rondspeel.
“Ek het maar gebruik waarvan ek hou.”
Gou het sy besef sy is nie die enigste wat daarvan hou nie. Sy het toe drie geure vervolmaak – chilli (haar topverkoper), uie en uie marmelade. Hoewel die woord chilli in die naam is, sê sy mense wat werklik van brandkos hou, voel dit is nie sterk genoeg nie.
Toe sy die perfekte resepte kry, het sy dit by kosmarkte soos dié in Pinelands, Seepunt en Cape Gate begin verkoop.
Tot haar groot verbasing het organiseerders van die Eunice Mark in Bloemfontein haar gekontak en gevra om die Blerrie Lekka-reeks daar te verkoop.
Die gewildheid het so toegeneem dat haar gesin gou moes inspring om te help.
Sy en haar man, Peet, het drie dogters, Dané (21), Anel (19) en Jana (12). Soos die gelukskoot en noodlot dit wil hê studeer Dané voedselwetenskap en Anel weer visuele kommunikasie. Die een het met haar etikettering gehelp, die ander met haar plakkers en sosiale media.
Haar volgende doelwit is om die Blerrie Lekka-reeks aanlyn te begin verkoop. Haar webtuiste gee tans net inligting en het nie ’n koopmeganisme nie.
Van Rooyen sê sy het al male sonder tal besighede op papier begin. Baie het sy selfs gedoen, maar sy het nooit gemaklik gevoel om geld by haar salon te leen om hierdie waagstukke te finansier nie.
Hierdie keer was anders, sê sy. Sy het geweet sy moes haar tone in die diepkant sit, want haar produk is immers Blerrie Lekka.
Die Blerrie Lekka-reeks kos R70 tot R80 per bottel (190 g), afhangende van die winkel, en is by die volgende winkels beskikbaar: Joey’s vleisprodukte, die Milnerton Neighbourhood Cafe, The Vineyard Deli in Kenridge en The Boer & Butcher in Boston, asook by verspreiders in Kaapstad, Stellenbosch, St. Helena-baai en die Weskus. Besoek blerrielekka.co.za vir meer inligting.





