Die hekelpenne het omtrent geklap soos vrywilligers oor die land heen oor die afgelope naweek aan die ATKV se hekelsafari-marathon deelgeneem het.
Die marathon het Vrydag om 12:00 begin en 30 ure later op Saterdag om 18:00 klaargemaak.
Uiteindelik was daar sowat 1 500 vrywilligers wat by 104 venues saamgekom het om blokkies te brei, wat later in komberse omskep gaan word om dt aan behoeftiges te skenk.
In die noordelike voorstede kon deelnemers by plekke in Durbanville, Brackenfell, Kraaifontein en Bloubergstrand aansluit.
By Emmanuel Church in Stellenberg, die Durbanville-venue, het daar Vrydag om 14:30 sowat nege vrywilligers gesit en hekel.
Judy Hendra, die koördineerder van die Durbanville-groep, sê teen daardie tyd het ’n klomp vrywilligers reeds in- en uitgekom en mekaar afgelos.
Die koffie, tee, koek en hope lekkergoed het reggestaan vir enige vrywilliger wat versterking nodig gehad het.
Die marathon is deur Leandra van Wyk en haar dogter, Monique Brink, van die ATKV-tak Arendsnes begin.
Oefeninge vir vingers
Dié twee het deurentyd per WhatsApp en ook met die lewendige uitsaai van aktiwiteite met vrywilligers gepraat. Hulle het ook onder meer oefeninge vir vingers uitgebeeld.
Hendra het van die marathon te hore gekom deur ’n Whatsapp-groep van ’n wolwinkel in Yzerfontein, waar sy gereeld koop. Sy het vinnig ’n plan gemaak om ’n plek by die kerk wat sy bywoon te reël, sodat sy en ander ook kon deelneem.
Sy het ’n Whatsapp-groep begin en ander, wat sy nie geken het nie, het soos hulle daarvan gehoor het, aangesluit.
Betrisca Martini van Welgelegen, ’n vrywilliger by die kerk in Stellenberg, het met ’n hoop komberse opgedaag wat sy reeds vir die geleentheid gebrei het.
Sy het nie die ander by die geleentheid geken nie, maar sê hekel en brei is so ’n gemeenskaplike oefening dat almal verweef met mekaar voel.





