’n Pa van Bonteheuwel, wie se agt maande oue baba onverklaarbaar by sy crèche gesterf het, sê die laaste ding wat hy onthou, is hoe sy kind uit sy maag uit gelag het.
Toe Tashreeq Canterbury en sy vrou, Zaida Adams, verlede Vrydag vir klein Mohammed Qiran onderweg werk toe by die crèche aflaai, het hulle nie geweet dit is die laaste keer dat hulle hom lewend gaan sien nie.
Vrydag net voor 14:00 het Tashreeq ’n oproep van die crèche ontvang dat hy dringend na ’n nabygeleë hospitaal moet gaan.
Hy was egter aan die werk en het sy ma, Tesneena Canterbury, gevra om solank te gaan.
Volgens Tesneena het sy by die hospitaal opgedaag en drie personeellede van die crèche gevind.
Sy het gevra waar die kind is, maar niemand wou iets sê nie.
“Drie dokters het my in ’n kamertjie ingeroep en gesê hulle is jammer vir my verlies. Ek was só geskok, omdat ek net ’n siek kind verwag het, nie een wat gesterf het nie,” sê Tesneena.
Tashreeq sê hy sou nooit kon dink dat die Vrydag so sou uitdraai nie.
“Ek het nog met my seun gespeel en hy het uit sy maag uit gelag. Dit is die laaste herinnering wat ek van hom het,” sê die gebroke Tashreeq.
Volgens Tashreeq is daar so baie vrae, maar bitter min antwoorde.
Sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, sê die polisie het Vrydag ’n oproep van die Vanguard-daghospitaal ontvang.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle gehoor die baba was reeds dood toe hy by die hospitaal aankom. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en ‘n lykskouing gehou om die oorsaak van die kind se dood te bepaal. Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die uitslag van die lykskouing is nog nie bekend nie,” sê Adonis.
Mohammed is Saterdag ingevolge die Moslem-geloof begrawe.
TygerBurger het na verteenwoordigers van die betrokke crèche uitgereik, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.





