Een van die geboue in Bonteheuwel se sakekern word kleurvol geverf.

Credit: SYSTEM

Bonteheuwel se sentrale sakekern gaan eersdaags een van die veiligste in die omgewing wees.

Só sê die plaaslike raadslid, Angus McKenzie, oor die opknapwerk wat tans daar aan die gang is.

“Ons wil Bonteheuwel van binne en van buite af laat goed lyk, dis hoekom ons die geboue ook kleurvol laat verf. Bonteheuwel het kleurvolle mense en ons moet dit bewys,” sê McKenzie.

Oor die veiligheidsaspek sê McKenzie kringtelevisie is op strategiese plekke in die sakekern aangebring.

“Ons gaan toegangsbeheer begin toepas met hekke wat oop- en toegesluit kan word. Gemeenskapsambassadeurs is ook aangestel om dit vir inwoners te beveilig.

“Dit moet hulle gemoedsrus gee om in vrede hul inkopies te kan doen, terwyl hul kinders veilig speel,” sê McKenzie.

Daar gaan ook ’n spesiale gebied wees waar informele handelaars hul goedere kan verkoop.

“Hulle gaan nou in ’n skoon en veilige omgewing handel dryf met beskutting teen die elemente. Meer handelaars sal ook die plek kan gebruik. Daar gaan ook nuwe ablusiegeriewe aangebring word om seker te maak die omgewing is skoon en netjies,” sê McKenzie.

Hy het ’n uitnodiging aan groot ondernemings gerig om van die nuwe, verbeterde sakekern gebruik te maak.

“Bonteheuwel is oop vir sake. Ons nooi julle uit om self te kom kyk en jul ondernemings hierheen te bring,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article