Huldeblyke stroom in nadat Kraaifontein se kaptein Gerhard Niemand sterf

Kaptein Gerhard Niemand soos almal hom geken het. FOTO:

Credit: SYSTEM

Hy was die mense se kaptein, die saggeaarde reus wat met sy heengaan die afgelope naweek ’n leemte los so groot as wat sy hart was.

Op die ouderdom van 63 het afgetrede polisiekaptein, Gehard Niemand, Saterdag na ’n siekbed aan kanker beswyk.

Hy was met sy aftrede in 2020 altesame 28 jaar en 123 dae in diens van die polisie, waarvan 20 jaar by die Kraaifontein-polisiekantoor.

Dáár het hy in 2003 aangesluit as kommunikasiebeampte tot en met sy aftrede in 2020. Maar sy liefde was sy werk in maatskaplike-misdaadvoorkoming vir ’n gemeenskap wat hy met sy hele hart gedien het.

Kaptein, soos almal hom geken het, was ’n mense-mens en ’n pilaar in die mees kwesbare gemeenskappe van Kraaifontein waar bende, dwelms en misdaad aan die orde van die dag was.

Hy het sonder ’n vuurwapen in die gevaarlike strate van Kraaifontein rondgestap en sy plig sonder geweld nagekom.

Selfs bendelede het in hul spore teruggestaan en geluister as hy praat.

As ’n toegewyde polisieman was hy vir baie ’n legende; ’n pa vir die pa-lose, ’n leier vir die rigtinglose en ’n anker vir die hopelose. Met sy dood het hy ’n heldestatus in Kraaifontein bereik.

ONSKATBARE IMPAK

Brig. Gerda van Niekerk, bevelvoerder van die Kraaifontein-polisie, sê sy impak op die gemeenskap was van onskatbare waarde.

“Hy het ’n passie gehad vir die bekamping van dwelmmisbruik en het ’n verskil gemaak aan wat mense se persepsie oor dwelms is, veral onder die jongmense. Sy dwelmuitstalling wat hy gereeld by skole gehou het, was van die grootstes in die Kaap. Die mense was baie lief vir hom,” sê Van Niekerk.

“Hy was regtig ’n gemeenskapspolisieman duisend – altyd bereid om te luister en ’n bydra te maak om verandering te weeg te bring,” sê Grant Twigg, ’n jarelange wyksraadslid in Kraaifontein.

“Hy was altyd bereid om op enige platform te kom gesels oor veiligheid, senior burgers en die jeug. Rest in peace captain of the people,” sê hy.

Dit was veral sy werk onder die jeug wat ’n groot impak gemaak het.

Kwayo Louw, administrateur van Kraailove se Facebook-blad en vandag ook ’n polisieman verbonde aan die blitspatrollie, het Niemand ontmoet toe hy in graad 11 aan die Hoërskool Scottsdene was.

“Ons wou ’n gemeenskapsfliek maak oor ’n bendeleier wat sy lewe omdraai om ’n pastoor te word, en so het ons by Kaptein uitgekom. Hy het gereël dat ons sommer daar by die polisiestasie in die agtererf oefen en was altyd daar. Kaptein het geweet dat dit nie by baie van die huise goed gaan nie, en het altyd gesorg dat daar iets was vir die honger magies,” sê Louw.

Groot voorbeeld

“As polisieman was hy ’n groot voorbeeld vir my. Ek het baie by hom geleer en soos hy gemaak het, skroom ek nie vandag om in die gevaarlike areas te werk nie. Kaptein was nie een vir geweld nie, maar hy het ’n connection met die mense gehad en altyd gebid oor alles. Hy was nie bang nie en het altyd gesê, hy weet wie hom beskerm.”

Kenny Nagel, wat al sedert 2011 as ’n noodhulpbeampte betrokke was by van die talle anti-misdaadoptogte wat Niemand in die dorp gehou het, sê: “Die optogte het altyd groot aandag getrek en mense het hom respekteer. Hy was oral bekend en selfs by die supermark oor naweke moes jy toustaan om te groet. Hy was ’n people’s magnet. Hy was baie approachable en het altyd tyd gemaak om met almal te gesels.”

Niemand was ook in die gemeenskap geken aan sy sterk geloof as Godvresende man.

“Hy het baie mense gehelp en was betrokke in die plaaslike kerke, wat almal betrokke was by sy anti-misdaadprogramme en waar hy altyd saam gebid het,” sê Nagel.

Vir sy jarelange kollega, AO Louise Strydom, was hy ’n legende.

“Ek kan boeke vol skryf oor wie hy as ’n polisiebeampte was. Hy was eers ’n soldaat en toe ’n polisieman, en dissipline en trots was in sy bloed. Hy het die geduld van Job gehad, die integriteit en dissipline van ’n veteraan en ’n hart wat groter was as ’n Jumbo-vliegtuig,” sê sy.

In ’n persoonlike huldeblyk skryf sy. “Ek weet vir ’n feit dat daar hordes mammies is wat so dankbaar is vir wat jy vermag het met jou vaderhart in huise met ‘stout’ dwelmkinders. Jy het voorwaar diep spore getrap. Jy was nie net my bevelvoerder nie maar ook ’n pa. Wees verseker jy sal nooit vergeet word nie. Rus sag daar Bo saam met ons ander bloubloed familie.”

Rob Bisset, voorsitter van die Kraaifontein gemeenskapspolisiëringsforum sê hy was “an officer and a gentleman.”

“Hy het baie vir die skole in Kraaifontein gedoen. Ons het ’n baie spesiale man verloor en sal hom baie mis,” sê hy.

Huldeblyke stroom in

Honderde huldeblyke het oor die naweek op sosiale media ingestroom.

Dedré Pypers skryf: “Sonder Kaptein sou ek dit seker nooit gemaak het nie. U was altyd daar vir my familie en u deur was altyd oop met ’n hart vol deernis en omgee vir die gemeenskap.”

Eriska Razeen vertel ’n staaltjie uit haar kinderdae.

“Ek was as kind die een dag net halwe dag weg van die huis af sonder om te sê ek loop, en daar en dan word ek sommer deur Kaptein Niemand as vermis aangemeld. Toe my pa daarvan uitvind, is ons reguit na Kaptein toe en daar het die poppe gedans. Maar ek het my les geleer en sal nooit weer die huis verlaat sonder om te sê nie.”

Rabie Philander skryf: “’n Man duisend! Ons het ’n ware leier en ’n legende verloor.”

Sbuja Dywili skryf: “What an amazing mentor and father you were to all of us. Thank you for your gift of love, kindness and a spirit of helping others. You truly believed in me.”

David Donovan Frans skryf: “RIP to my hero, my daddy, my everything. Ek kan nie glo dat kaptein nie meer met ons is nie.”

In ’n onderhoud wat hy in 2014 vir Kraaifontein-stories gedoen het, weerspieël sy woorde die boodskap wat hy uitgestraal het.

“Laat ons saamstaan en vergeet van die verlede en na ’n toekoms toe werk waarvan ons in beheer is. Wat gebeur is, baie mense wil kwaad wees – kwaad vir die polisie en kwaad vir almal omdat die land is soos hy is.

“Maar as elkeen van ons ’n positiewe bydrae maak, gaan Kraaifontein ’n positiewe dorp en ’n baie groot gemeenskap in Suid-Afrika wees.”

In die laaste boodskap uit sy hospitaalbed aan die gemeenskap, sê hy: “In die bed waar ek nou lê, leer ek elke minuut hoe kosbaar die lewe is. Kyk na jouself; jou gesondheid is belangrik. Bid vir my en bid vir mekaar. As daar nie hoop is nie, voel ek, ek het dit uitgeklaar.

“Die ewige lewe lê voor en ek is reg. Ek glo aan Jesus Christus daar bo. As ’n gelowige, laat kom wat wil!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article