Hoewel Milnerton se Unimil-rugbyspan ’n bloutjie geloop het in die jongste reeks topafdeling-superligawedstryde, kan hy moontlik tog nog saam met Durbanville-Bellville die uitkloprondes in die wedloop om die beker haal.
Unimil het die afgelope Saterdag met 22-26 teen Helderberg vasgeval, die voorloper op die puntelys. Alles hang nou af van wat in ’n laaste klompie ligawedstryde gebeur voordat die bes geplaasde spanne mekaar in die uitklopfase die stryd aansê.
Durbanville-Bellville het wel met sy 42-3- afranseling van die Universiteit van Wes-Kaapland sy posisie verstewig. Maar hy het nog twee taai teenstanders wat wag – die Maties en die Ikeys. Laasgenoemde wedstryd teen die Kaapse studentespan moes verlede Woensdag plaasgevind het, maar is uitgestel.
In ander topliga-kragmetings het Brackenfell die afgelope naweek met 17-11 met Kuilsrivier afgereken, maar Tygerberg-klub (13-41 teen die Ikeys) en Noordelikes-Tygerberg (0-111 teen Villager) het ’n minder aangename dag beleef.
In die B-afdeling het Kraaifontein se Hands & Heart en die Kaapse Skiereiland vir Tegnologie (KSUT) albei nog ’n geringe kans om die uitspeelrondes te haal, danksy Saterdag se oorwinnings. Hands & Heart was met 40-22 Vineyards se meerdere terwyl KSUT met 43-37 teen Belhar gewen het.




