Kappertjies blom in ’n ou toiletbak. FOTO: Solly Lottering


Ander mense se weggooigoed is haar kwas en haar voorerf is haar skilderdoek.

Met groen vingers en ’n koddige kunssinnigheid het Lenie Philander ’n unieke en interessante tuin by haar huis in Kraaifontein geskep.

In die een hoek blom kappertjies in ’n ou toiletbak en teen die muur is ou blikbekers netjies op ’n boomtak uitgestal.

Vrolike blomblare, uitgeknip uit ou plastiekbottels, verfraai ’n boom en selfs haar hondehokke is ingekleur.

Vir Lenie is optelgoed mooimaakgoed. Selfs ou skoene het ’n plek in haar netjiese “feetjie”-tuine. “Vir elke ou skoen of gekraakte slaaibak is daar ’n vetplantjie wat wag. Mense kyk my snaaks aan as ek rommel optel en bymekaar maak, maar ek kan baie daarmee doen.”

Sy sê sy het die liefde vir tuinmaak van die plaas af dorp toe gebring. “Ek kan asem skep in my tuin as die lewe te erg druk. So tussen die blomme en mooi goed wat ek maak, sien ek weer die lewe uit ’n ander oogpunt. Ek hou van groenigheid en vir elke optelding is daar ’n plantjie.

“Alles gaan op in die lewe – petrol, kos en nog. So waarom nie iets mooi maak wat jy gratis op straat kan kry nie?”

Louisa Saaiman, een van Lenie se vriendinne, sê sy voel soos ’n feetjie as sy in die tuin is.

“Daar staan ’n genie by ’n bottel en ’n padda langs ’n dammetjie waar jy ’n wens kan maak. Haar skeppings praat met my. Dit voel of ek in ’n ander wêreld is,” sê Louisa.

Lenie is lief vir helder kleure. “Ek hou daarvan om my met kleure te omring. Alles is nie net donker in die lewe nie en ek doen wat ek doen uit pure lekkerte.”

Die tuin kom nou al vyf jaar so stuk-stuk aan en blom nou al só dat almal in die straat stadig verbystap om te kyk.

“Dis ’n groot attraksie in die omgewing. Alles is so mooi en vars; ek like dit.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article