Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images


Die Kleinvlei-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het sy stem gevoeg by ander ontstelde gemeenskapslede nadat ’n matriekleerder, wat na bewering ’n skoolopsigter doodgesteek het, op borgtog van slegs R500 vrygelaat is.

Juninho van der Westhuizen, opsigter by die Hoërskool Blackheath, is verlede week doodgesteek nadat hy en ’n leerder glo in ’n woordewisseling betrokke was. Van der Westhuizen het op die skoolperseel aan sy wonde beswyk.

Hoewel sy pa verlede week gesê het hy vergewe die vermeende moordenaar, het sy broer aan TygerBurger gesê hy het nog nie daardie punt bereik nie.

Past. Hubert Kemp, voorsitter van die GPF, sê hulle is ook hoogs ontsteld omdat die verdagte op borgtog van slegs R500 vrygelaat is. “Die polisie moes duisende kilometers aflê om hom in die Oos-Kaap in hegtenis te neem, maar hy word op borgtog van R500 vrygelaat. Dit is duidelik dat hy van die gereg wou vlug en kan dit weer doen. Is R500 nou wat ’n mens se lewe werd is?” vra Kemp.

Volgens hom hoop die GPF dat geregtigheid sal geskied en die verdagte swaar gestraf sal word. “Hy het hierdie daad doelbewus gepleeg en daar is geen ander manier as dat hy swaar gestraf moet word nie. Die gemeenskap is hoogs ontsteld, om die minste te sê,” sê hy. Die verdagte verskyn weer op 7 Oktober in die hof. Van der Westhuizen is die afgelope naweek vanuit die New Life-kerk in Malibu in Blue Downs begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article