’n Man het gister in die hof verskyn op aanklagte van diefstal en geldwassery nadat hy glo byna R2 miljoen by die NG Kerk gesteel het.
Die man, George Schutte, het gister (18 Oktober) op aanklagte van bedrog in die Bellville-handelshof verskyn.
Volgens Lt. Kol. Siyabulela Vukubi, woordvoerder van die Valke, hou Schuttte se inhegtenisneming verband met die saak van Stephanie van der Merwe, wat ’n werknemer was van die Wes-Kaaplandse Sinode se finansiële kantoor in Bellville.
Van der Merwe, wat intussen oorlede is, het vir die kerk as ’n administrateur van die pensioenfonds gewerk.
“Tussen Oktober 2018 en Mei 2020 het sy onwettig meer as R5 miljoen vanaf die kerk se bankrekening in verskeie ander rekeninge oorbetaal,” sê Vukubi.
Ds. Nelis Janse van Rensburg, voormalige moderator van die Sinode van die NG Kerk, het in ’n vorige persverklaring gesê die kerk het in Mei 2020 vermoed dat ’n werknemer van die sinode geld van die Sinode van Wes-Kaapland wanaangewend het.
“Die werknemer is nog dieselfde oggend met die feite gekonfronteer waarop die werknemer met onmiddellike effek bedank het,” hy gesê.
Hy het ook destyds vir gemeentes en predikante verseker dat hul pensioenfondse veilig is.Dit is onseker hoe Van der Merwe oorlede is.
Sy het glo die geld in twee van Schutte se rekeninge betaal. Dié betalings is tussen April 2019 en Mei 2020 gemaak en het R1 995 00 beloop.
Schutte is op R5 000 borgtog vrygelaat. Sy saak is tot 24 November uitgestel waarna daar op ’n streekhofdatum besluit sal word.





