Die Bishop Lavis-polisie sê hy het nog nie amptelike bevestiging of die liggaam van ’n man wat verlede week uitgebrand op ’n treinspoor gevind is, dié van Justin Warner (24) is nie.
Volgens sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, het die polisie verlede week die grusame vonds gemaak.
“Dit het gelyk of daar buitebande om die liggaam was, wat gehelp het om dit te laat brand. Daar is ook ’n gebuigde mes langs die liggaam gevind en ’n gebreekte een daarnaby. Ons wag nog op inligting om die liggaam te identifiseer,” sê Adonis.
Sy sê ’n moorddossier is geopen. “Ek het gesien ander mense het die oorledene se naam bekend gemaak, maar ons wil eers doodseker wees en wag op die uitslae van die forensiese toetse,” sê sy.
Graham Lindhorst, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, het die publiek se hulp gevra om die moordenaars op te spoor. “Dit is ’n grusame moord en ek hoop van harte die moordenaars word spoedig opgespoor. Die familie van die oorledene moet afsluiting kry en ons wil nie hê mense wat tot hierdie dinge in staat is, moet op straat wees nie. Hulle moet uit die samelewing verwyder word,” sê Lindhorst.
Volgens hom was die toneel grusaam en sal elke bietjie inligting help om die moordenaar of moordenaars op te spoor.
“Dit kon jou familielid gewees het; so as jy iets weet, hoe gering dit ook al mag klink, bel asseblief die polisie,” sê hy.
Daar word beweer dat Warner saam met sy suster gestap het en sy op hom gewag het om terug te kom. Toe hy nie kom nie, het sy drie mans gevra waar hy is, maar hulle het haar weggejaag. Toe hy nie by die huis opdaag nie, is daar na hom begin soek, tot sy liggaam op die spoor gevind is.
Bel die polisie by 021 935 9803.





