Pasop, Handré Pollard, die nuwe naam in rugby kom vir jou.

Anja le Roux (18), van Oakglen in Bellville, speel nog net ’n jaar en ’n half rugby, maar ryg al klaar die pryse in.

Anja le Roux

Anja le Roux

Dié matriekleerling aan die Hoërskool DF Malan is onlangs as die rugbyspeler van die jaar deur die webtuiste Ruggas.co.za aangewys.

“Ek was baie dankbaar en bly oor die opwindende nuus op daardie oggend toe hulle my ma bel en die nuus met haar deel. Dit is regtig n besonderse mooi toekenning,” sê sy.

Losskakel

Anja, wat losskakel speel, het in April 2022 vir die eerste keer by die skool rugby begin speel. Sy word deur die Up and Under Ladies Rugby Academy, wat die sport by die skool afrig, touwys gemaak. “Hulle het goeie afrigters en my afrigter, Viaan Jonker, het my die afgelope twee jaar vir WP-proewe benoem. Up and Under het my ook die geleentheid gegee om aan ander toernooie deel te neem. By sommige van hierdie toernooie word jy deur Saru (die Suid-Afrikaanse rugby-unie) en universiteite wat verdere geleenthede bied, raakgesien.”

Anja het van kindsbeen af ’n liefde vir die spel. “Ek wou nog altyd rugby gespeel het,” sê sy. “Dit was een van my drome al van kinderdae af waar ek en my broer, Juan, altyd saam met mekaar gespeel het. Op laerskool was daar nie rugby vir meisies nie en ek het maar pousetyd saam met die seuns gespeel en bal geskop.”

Strategie

Daar is baie kontak in die sport, maar sy is veral lief vir die strategie van die spel. In wedstryde self is dit heerlik om “ ’n breek te maak en daardie adrenalien wat inskop en sê ‘nou moet jy roer dat die biesies bewe’, op pad na die doellyn toe.”

Sy geniet ook die spangees en nuwe spanmaats.

Anja hoop nou om eendag professioneel te speel. Intussen gaan sy volgende jaar deeltyds onderwys studeer terwyl sy aan haar kondisionering werk.

Sy sê almal kan dié sport beoefen. “Rugby is ’n sport wat ’n plek het vir elkeen, maak nie saak van jou liggaamsbou nie. Jy moet net gereeld oefen, fiks word en goeie afrigting kry.

“Dit bly ’n spansport. Moenie die beste in die span probeer wees nie, maar wees die beste speler vir jou span. Speel vir jou spanmaats!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article