MJ saam met sy beste vriend Takue (Koekoe).

Verskaf

‘n Hartroerende storie oor die hegte vriendskap tussen ’n tweejarige seuntjie en ’n Zimbabwiese skrynwerker roer Kapenaars se hartsnare.

’n Video oor hoe die klein MJ Barnard elke oggend in die straat afhol tot in die arms van sy beste vriend Takue Rodney (32) wat hom liefdevol opraap is al meer as 125 000 keer op ’n plaaslike Facebook-blad in Kraaifontein gekyk. (sien video onder).

MJ se pa Marthunis sê die twee is al vriende vandat MJ ’n pap babatjie was.

Takue wat in Wallacedene bly is die afgelope vyf jaar werksaam by die Barnards se houtwinkel.

“MJ het groot geword met Takue in die huis. Takue kom elke oggend eers na ons huis toe, vanwaar hy dan saam met my winkel toe ry. MJ kan nie wag vir sy aankoms nie, waarna Takue dan vir hulle grondboontjie-en stroop-toebroodjies maak om saam te eet. Die roetine speel elke oggend in ons huis af. Takue verwys na hom as ‘my friend’ en MJ noem hom Koekoe en gaan wys hom sy karretjies en dinosourusse,” vertel Marthunis.

“Hulle gesels al van MJ se babatjie dae of land en sand. Takue het  hom in die oggende uit my vrou se arms geneem en met hom gesit en gesels. Soos MJ groter geword het, het die vriendskap al hegter geword. As hy wakker word in die oggende vra hy al waar is Koekoe. Die oomblik wat ons vir hom sê Koekoe is hier hardloop hy uit.

“As Takue by MJ is, sal jy hom nooit op sy foon sien nie en sy aandag is 100% op MJ gevestig en andersom.”

Vir dié familie was Takue ’n vriend deur dik en dun wat geken word vir sy kompassie teenoor sy medemens.

“Hy was daar vir ons in die moelike tye deur Covid en het met sy warm persoonlikheid die gemoedere opgehou. Sy persoonlikheid is aansteeklik.”

Oor die video sê Marthinus het hulle baie positiewe terugvoer gekry.

“Ons het net die een oggend besluit om die video wat ons geneem het met die gemeenskap te deel om die vreugde wat dit ons bring te deel”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article