In Bedford Straat in Parow is daar lankal nie meer ’n skool nie, maar die woord “Skool” bly voortleef op die pad.
Die gebou is nou die Hernus Kriel-behuisingseenheid. Jare gelede was dit wel die Laerskool Parow-Sentraal, waar my ma van 1969 tot 1972 skoolgegaan het – van standerd twee tot vyf. Sy kan die onderwysers Burger, Stassen, Hanekom, De Villiers en so meer onthou.
Wat ook opvallend is, is dat slegs die Afrikaanse weergawe “Skool” op die pad pronk, wat dui daarop dat dit wel jare gelede geverf is, aangesien Afrikaans meestal die oorheersende taal in daardie era was.
Of dit elke keer onwetend oorgeverf is met die opknap van die pad, is ek nie seker nie. Oorkant is ook ’n oop blad, wat waarskynlik die skool se tennis- en/of netbalbane was.
Dalk is daar lesers met interessante staaltjies oor die skool wat die ouer garde se dag sal opkikker. Laat hulle bietjie skryf dat ons kan lees.




