Is hier te veel mense in die Kaap?

Dit kan dalk ’n subjektiewe, onakkurate waarneming wees, maar dit voel vir my asof hier te veel mense is.

As ek in ’n winkelsentrum is, sien ek hordes mense. Wanneer ek op die snelweg is, kom daar duisende motors verby.

Dit kan wees dat ek nou eers daarop ag slaan, maar regtig, ek voel oorweldig.

Oral waar ek gaan, sien ek nuwe formele behuisingsontwikkelinge soos paddastoele opskiet.

En dan ook informele strukture wat gebou word. Selfs in die middestad, wat veronderstel is om die hartklop van ons toeriste-sektor te wees, is daar baie saamgeflansde strukture. Mense was selfs wasgoed langs die Kasteel!

Ek is altyd versigtig om oor migrasie van mense van een plek na ’n ander te praat, want jare gelede het ’n politikus ’n storm veroorsaak deur na mense van ander provinsies as “immigrante” te verwys.

Ek self is ’n “immigrant” uit ’n ander provinsie, maar ek het darem dalk al verblyfreg ná meer as 20 jaar in die Kaap.

Maar stroom mense uit ander dele na die Kaap?

Ek het bietjie gaan kyk, en wat ek vind is dat tussen 2016 en 2021 het die inwonertal met meer as 624 616 gegroei. Dit is ’n skrikwekkende syfer en dit stem ’n mens tot kommer.

Is dit volhoubaar dat so baie mense na Kaapstad stroom?

Ek sien elke jaar nuwe skole word gebou, maar as ons die koerante in Januarie oopslaan, lees jy dat daar nie plek vir al die kinders is nie. Waar gaan dit eindig?

Ek was op laerskool toe ek oor verstedeliking geleer het en daar is toe reeds gepraat oor die uitdagings wat daarmee gepaardgaan, soos die druk op infrastruktuur soos paaie en sanitasie.

Werk bietjie uit hoe lank dit jou neem om by die werk te kom in vergelyking met jare gelede.

Met openbare vervoer wat heeltemal in duie gestort het, is ons paaie volgende wat gaan flop, want die meeste mense ry nou met hul motors.

Ek verstaan dat die land gebuk gaan onder ’n werkloosheidskrisis en dat mense agter werk aan trek. Onlangs het ek gehoor dat iemand uit die Oos-Kaap verhuis het om as ’n tuinman in die Kaap te kom werk?

Om te dink jy los alles agter wat jy ken en dan kom werk jy hier vir ’n loon waarmee jy nie eens kan bekostig om ordentlike verblyf te kry nie?

Ek sal verkeerd wees as ek swyg oor wat politici aan die ekonomie van die land gedoen het, wat daartoe lei dat miljoene mense swaar kry. Hulle skep net nie die omstandighede wat vrugbaar is om volhoubare ekonomies groei te bewerkstellig nie.

En daarom ly so baie mense. Ek weet nie wat die antwoord is nie, maar my onwetenskaplike siening is dat Kaapstad op dieselfde ramp afstuur as soveel ander stede in Suid-Afrika – oorbevolking met die gevolglike swakker dienslewering en uiteindelik algehele verval van infrastruktuur en lewensstandaard.

Die verkiesing is om die draai en ek hoop van harte kiesers maak hul kruisie langs partye wat kan keer dat ons nie almal op ’n bondel hoef te bly nie.

– Brenden Ruiter

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article