Die eens vaal wal van die Jip de Jager-verlenging is in ’n Josefskleed van kleur omtower.


Vyf jaar nadat ’n plaaslike tuinboukundige van Durbanville uit sy eie die vaal sypaadjies, sirkels en eilande in dié dorp, asook in dele van Bellville, onder hande begin neem het, het dit ’n gedaanteverwisseling ondergaan en dit in ’n towerwêreld van kleur omskep.

Motoriste in onder meer Durbanville-rylaan van Kerkstraat in Durbanville tot Kendalweg in Bellville sien gereeld die Christen Aksie Netwerk (C.A.N.)-tenkwa waar werkers met bloedsweet besig is om plante te plant, te versorg en op snikhete dae water aan te dra.

Dit het alles begin toe Wouter Kruidenier van De Kruidenier Eksklusiewe Tuine in 2015 op eie inisiatief begin het om bome in Vleistraat te plant. Maar dit het daar gestop.

Drie jaar later het hy op ’n dag verby die sirkel waar De Villiers- en Legato-rylaan bymekaar aansluit, stilgehou en sy werkers daar afgelaai om dit skoon te maak.

“Ek kon dit nie meer hanteer dat dit so vol onkruid staan en dit toegelaat word om saad te skiet nie. Toe ek die skoongemaakte stuk grond daarna sien, wou ek natuurlik iets daar plant om die voorkoms van die sirkel te verbeter. Dit was die begin van die projek,” sê hy.

Die kleurvolle beddings in Durbanville-rylaan is ’n lus vir die oog.

MySchool-kaart

Intussen het Pieter Smit en Yolande Snyders by hom aangesluit en hulle het in Oktober 2019 die nie-winsgewende organisasie C.A.N. gestig om die gemeenskap betrokke te kry.

Met donasies en selfs net om C.A.N. as jou begunstigde op jou MySchool MyVillage MyPlanet-kaart te registreer, kan almal hieraan deelneem.

“Ons wou graag die dorp verfraai en die omgewing ’n hupstoot gee,” sê hy. Einde verlede jaar het ’n prokureur, Danny van Zyl, by die span as direkteur aangesluit.

Buiten sypaadjies, sirkels en eilande in Durbanville en Bellville het C.A.N. ook die tuine van die Durbanville-kinderhuis in 2018 geskep en onderhou, en brei dit steeds uit.

“Ons het verlede jaar ’n groentetuin daar geskep, wat nou vrugte afwerp en ons gaan hopelik vanjaar ’n tweede, baie groter groentetuin begin,” sê hy.

C.A.N. is ook by die Aristea-aftreeoord besig om die ingang te vernuwe en beplan met die verloop van tyd om dieselfde by die kinderhuis te doen.

“Ons het wel geld hiervoor nodig; dit is baie groot gebiede en daar is geen besproeiing of boorgate nie. Baie kompos sal ook aangekoop moet word,” sê hy.

In die somer word minstens 5 400 liter water per week met houers aangedra, en nog 25 000 liter water per week met hul tenkwa.

Die vrolike werkers van C.A.N., (van links) Wilson …, Lascot …, Kudzi … en Davie …, waardeer dit as mense hul dank vir hul harde werk betuig.

Gunstelingprojekte

“My gunstelingprojekte wissel soos wat die verskillende projekte in blom kom. In die lente is dit Namakwaland – die naam van die deel tussen St. Johnswood-landgoed en Jip de Jager-rylaan, omdat dit ontplof met kleur,” sê Kruidenier.

Vir Snyders is haar gunstelingprojek die Doolhofsirkel, die naam van die sirkel in Mosselbankrivierweg in D’Urbanvale, “want dit is treffend en interaktief”.

Vir Smit is sy gunstelingprojek die kinderhuis. Hy is trots op al die gebiede wat Wouter geskep het. “Die lang heuwel in Jip de Jager-rylaan is die mees uitdagende omdat dit so lank en so skuins is,” sê hy.

Hul grootste uitdagings is die son en hitte, onkruid in die winter, maar ook vandalisme en diefstal van plante.

Positiewe terugvoer

“Ons ontvang gereeld positiewe terugvoer op sosiale media of per e-pos. Maar die hoogtepunte is wanneer mense by ons werkers stop of verbyry en toet en ’n thumbs up wys,” sê Kruidenier.

Ongelukkig is hul finansies nie altyd so kleurvol soos die sypaadjies, sirkels en eilande in Durbanville nie.

C.A.N. het in Desember verlede jaar ’n laagtepunt bereik toe maandelikse donasies begin opdroog het. Hul grootste uitgawe is lone, afvalverwydering en kompos, asook brandstof.

“Ons maandelikse onderhoudsuitgawes wissel tussen R30 000 en R50 000, afhangend van die seisoen. Hierdie kostes sluit nuwe projekte uit,” sê Kruidenier.

“Wat vir ons dié beste help met beplanning, is gereelde skenkings. Ons moet al drie ons eie ander besighede bestuur en dit sukkel soms om aandag aan fondsinsameling te gee,” sê hy.

“Ons het egter nou baie meer gereelde donateurs, waarvoor ons ongelooflik dankbaar is,” sê hy.

Die byekorfsirkel is geleë in Kerkstraat waar dit by Hoogstraat in Durbanville aansluit.

Bestaan word gevier

Om die vyfjarige bestaan van C.A.N. vanjaar te vier, wil hulle twee fondinsamelingsprojekte begin – #CAN50, waarin ’n donateur of gesin R50 per maand skenk, en #CAN500, waarin besighede R500 per maand skenk.

Onder hul getroue ondersteuners is Erhard Frick en sy pa, wat werkskoene aan die span geskenk het; Dawn Olivier, wat pragtige groen hoede en waterbottels geskenk het; VDM Optometrists vir sonbrille en gratis oogtoetse; Mariël Burger en sy span van Pam Golding Eiendomme – Durbanville, Bellville en Parow, wat al ’n artikel oor C.A.N. in hul tydskrif geplaas het, asook die skenking van geld wat met hul gholfdag ingesamel is; en Uys en Kie. Rekenkundiges, wat hul dienste gratis aan C.A.N. bied.

Mense kan bydra deur maandelikse debietorders, kaartbetalings deur die skandering van hul QR-kode of deur Christian Action Network as begunstigde op hul MySchool MyVillage MyPlanet-kaart te kies.

Kontak C.A.N. by help@uCAN.org.za met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article