Volgens die Stad Kaapstad was dit sand in die rioolstelsel wat daartoe gelei het dat ’n drein in ’n park oorkant die kanaal van Jan Krielskool se terrein en tussen die kanaal en Van Wykstraat in Brandwag onlangs oorvloei het.
Rioolwater het vir dae lank ingevloei in die kanaal van die Bottelaryrivier, wat in die Kuilsrivier loop.
Volgens Giel Maritz, wat al meer as 20 jaar net om die draai van die park woon, het die rioolwater minstens twee weke lank oorvloei.
Hy het al verskeie klagtes opgeneem oor die onderhoud van die park, asook die dreine wat oorvloei. Marian Nieuwoudt, wyksraadslid, het wel probeer help waar sy kon, sê hy.
“In die begin het ek baklei oor die portjackson. Hulle het die (Brandwag se) kant (van die kanaal) skoongemaak, maar nie die anderkant nie.”
“Ek moes baklei dat hulle die park (se gras) kom sny. Nou sny hulle dit darem so elke drie maande.” Met TygerBurger se besoek het hy ’n groot hoop gras wat nooit verwyder is nie, uitgewys. “Nou kom gooi mense nog goed daarby.”
Daar is ’n paar ronde sementdreine (mangate) in die park en die stuk oop grond langs die kanaal af. Maritz reken dit is deur die Stad gebou omdat daar ’n probleem met die vloei van die riool daar is.
“Die (Stad se) trok (wat riool pomp) kom drie tot vier keer ’n week. Ek het al met die opsigter gesels en gesê: ‘dit help nie, dit is net tydelik. Doen iets prakties’.”
Maritz sê eintlik is dit ’n lieflike park waar hy voorheen graag met die hond gaan stap het. Daar is ook speeltoerusting vir kinders.
Hy hoop dat die Stad geld beskikbaar sal stel vir ’n meer permanente oplossing vir die risiko wat die rioolstelsel daar inhou.
Stad reageer
Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê ’n werkspan van die Stad het die blokkasie, wat deur sand veroorsaak is, op 4 April verwyder. Die span het ook opgelet dat een van die oorspoelde dreine se raam en deksel los was, sê hy.
“’n Span is aangewys om dit te herstel. Sand en ander vreemde voorwerpe het as gevolg van hierdie beskadigde mangat in die rioolstelsel beland.”
Badroodien sê die direktoraat vir water en sanitasie sal aanhou om op diensversoeke in die gebied te reageer soos en wanneer inwoners dit deur die Stad se stelsel aanmeld.
Wat die opknap van die rioolstelsel betref, is daar nie tans enige planne om pype in die gebied te vervang nie, sê hy.
“Gebaseer op die hoeveelheid ontwikkelings in hierdie gebied en die aantal restaurante wat aan die rioolstelsel gekoppel is, is dit meer waarskynlik dat die probleem vreemde voorwerpe is wat in die rioolstelsel beland.”
Hy sê vreemde goed wat gereeld in die rioolnetwerk beland, sluit sand, sement, hout, plastiek, lappe, asook vette en olies, in.
Hy deel die volgende wenke om blokkasies en oorstromings van die rioolstelsel te vermy:
- Maak van die gepaste verwyderingsdienste gebruik vir ongewenste afvalmateriaal;
- Slegs menslike afval, toiletpapier en gryswater mag deur rioolpype vloei. Dit is onwettig om enige ander materiaal in die rioolstelsel af te spoel of te plaas;
- Plaas ’n sif in wasbakke om enige stukkies kos of ander afval op te vang;
- Vee kookolies of vette uit potte en panne voordat dit gewas word;
- Moet nooit babadoeke en sanitêre produkte in die toilet afspoel nie – dit absorbeer water en swel, wat blokkasies veroorsaak;
- Geute moet nie in die rioolstelsel invloei nie omdat reënwater die stelsel kan oorlaai;
- Maak gebruik van die Stad se depots waar onder meer herwinbare materiaal, elektroniese afval en bourommel afgelaai kan word.





