Lorrein Katzke van Radio Tygerberg het vandeesweek vir die laaste keer uitgesaai. Sy sien nou daarna uit om meer tyd met haar gesin te spandeer.FOTO: Richard Roberts


Die bekende Radio Tygerberg 104FM omroeper Lorrein Katzke het vandeesweek die radiostasie en sy personeel vaarwel geroep. Gister was dié gesoute radio-aanbieder se laaste keer dat sy sou uitsaai – ná ’n radio-loopbaan van meer as 26 jaar.

Die 67-jarige sê sy oorweeg nog haar toekomsplanne, wat sover ’n sabbatsverlof, rus, tyd vir haarself en haar gesin en bietjie later reisplanne insluit. Skryf, ’n gastehuis bedryf en dalk opleiding van ander in die toekoms is nog ’n paar van haar opsies, skerts sy.

In die beginjare het sy eers gedien as ’n raadslid by Radio Tygerberg, en het sy nooit gedink sy sou agter die mikrofoon inskuif nie.

“In 2000 het ek begin programme aanbied. Ek het nooit gedink ek sal regtig belangstel in radio nie. Ek het wel opleiding gehad in spraak en drama, maar radio was nou nie my voorkeur nie. Toe in ’n stadium het iemand weggegaan en het hulle baie dringend iemand nodig gehad, dis toe dat hulle vir my gevra het of ek sal kan aflos vir so drie maande, en dit is nou wel ’n paar dekades later en hier is ek nog steeds,” skerts sy.

Radio Tygerberg het verlede jaar sy 30ste bestaansjaar gevier. Lorrein het in 1998 by hulle aangesluit.

“Ek het onderwysopleiding ontvang en deel van die opleiding was spraak en drama, en radio was ’n klein deel daarvan, maar ek het nooit regtig daarin belanggestel nie, of gedink ek sal daarin belangstel nie. Niemand het my opgelei daai dae nie, maar sedertdien het ek begin om omroepers op te lei. Dis ’n groot deel van my werk. Ek het net gevoel ek wil nie weer hê iemand moet begin soos wat ek begin het nie. Ek het al baie omroepers opgelei, ’n ontelbare aantal,” sê sy.

Om ’n radio-aanbieder te wees, sit ook nie in almal se broek nie.

Opleiding

“Radio-opleiding het meer as een aspek, maar omdat ons ‘n Christen-gemeenskapsradiostasie is, is die vertrekpunt vir my altyd dat ’n persoon moet kan getuig dat hy of sy ’n Christen is. En dan behels dit die tegniese vaardigheid – om die klankbord te kan hanteer, die korrekte stemgebruik, intonasie, spoed en baie belangrik is taalvaardigheid, ek kan nie vir iemand taalvaardigheid leer nie. As hulle dit nie het nie, gaan hulle dit nie maak in radio nie, jy moet jou stem kan projekteer. So, dis nogal ’n omvattende opleiding, dat mense verstaan wat is die verskil tussen ’n gemeenskapsradiostasie en ’n kommersiële radiostasie.

“Dit was vir my deel van die opleiding, dat mense verstaan wat is ons nismark, wat is ons werk as gemeenskapsradiostasie. Dan om mense te begin oplei vir die werk,” sê sy.

’n Mens moet baie struikelblokke oorkom voordat jy ‘n gesoute omroeper is, voeg sy by. “Byvoorbeeld, jy moet jou ‘stage fright’ oorkom. Om die eerste keer op lug te gaan is vir baie mense nogal vreesaanjaend. Jy moet dit eers oorkom. Omdat ek programme aangebied het voor die tyd, was dit nie vir my ’n probleem nie, maar vir ’n ou wat dit nog nooit gedoen het nie, is dit nogal ’n ‘daunting’ aspek, om vir die eerste keer op lug te gaan.”

Nog een van haar verantwoordelikhede by die radiostasie was om jaarliks geld in te samel.

Die verandering wat sy met behulp van haar program by mense teweeg kon bring, is vir haar ook ’n hoogtepunt. Van die veranderings was om mense met selfdood-neigings se besluite om te keer.

“Ek het ook ’n getuienis-program begin met die naam Draaipunt. Oor die jare het ek die wonderlikste getuienis opgeneem en daar is mense wat nie kon wag vir daardie program nie.”

Sy sê ná al die jare se diens is dit die radiostasie se mense wat sy die meeste gaan mis.

“Radio Tygerberg is soos ’n familie, dit beteken daar is warmte, daar is liefde, daar is koestering. Jy kan veilig voel. Jy voel geborge, maar soms ook soos kinders in ’n huis. Daar is verskille, mense wat nie saamstem oor sekere goed nie, maar hier word dit altyd uitgestryk, regtig in liefde, as mense hier instap, een van die dinge wat hulle sê is ‘dit is so ’n warm atmosfeer wat hier is’. Dit was lekker om werk toe te kom.”

Sy meen die radiostasie ploeg baie in sy personeel in, veral in die opleiding van sy span. “Die bestuur ploeg verskriklik baie tyd, geld en moeite in die oproepers in en hulle maak seker dat ons gereeld opleiding bywoon.”

Sy sê vir baie van die personeel wat hier aansluit is dit moeilik om aan te beweeg. “Ons omset is verskriklik laag, mense wat eers hier begin wil nie weggaan nie, want dis lekker om hier te werk, dis lekker om met die mense te werk. Die heel belangrikste vir my is om die gemeenskap te dien,” sê die Bloubergstrand-inwoner.

Familie

Lorrein beplan nou om meer tyd aan haarself en haar gesin te gee. “As dit nie vir my gesin en my man was nie, sou ek dit nie kon doen nie, hulle het my ondersteun van die begin af. Dit (die werk) is tyd wat jy van hulle af wegneem om in te ploeg in ander mense, so ek kan regtig sê die ondersteuning het my in staat gestel om my werk in vreugde te doen.”

Sy verlaat ook die bedryf wetende dat die toekoms van radio op ’n goeie plek is.

“Persoonlik sien ek radio ver in die toekoms in. Hoe dit digitaal gaan lyk is ek nie heeltemal oor seker nie. Ek glo solank as die mens bestaan gaan daar radio wees.

“Gemeenskapsradio, kan ek sê, vir my is dit nog meer seker as radio, want jy het ’n nisgroep, ’n groep met gedeelde belange en belangstellings, wat altyd met mekaar in kommunikasie sal wil wees. Die toekoms vir gemeenskapsradiostasies lyk vir my baie goed, want jy sal altyd mense kry wat ’n gedeelde belangstelling het, jy sal altyd ’n nismark hê, maar daar moet ’n mens ook onthou jy het ’n verantwoordelikheid teenoor wat jy sê, dis wat mense glo.”

Haar advies aan die publiek, is: “Wees eerlik, wees bedag, wees goed en wees dankbaar. As jy dít kan regkry sal jy ’n gelukkige mens wees, en as jy wedergebore is, gaan jy nog boonop hemel toe ook, hoe is daai vir jou?”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article