Sedert die inperking in 2020 tot onlangs kon die Laerskool Irista met die hulp van skenkings en donateurs twee keer per week ’n maaltyd aan behoeftiges in hul gemeenskap gee.
Die skool se leerders kry elke dag maaltye as deel van die Nasionale Skoolvoedingsprogram (NSVP), maar die behoefte strek wyer.
Die vroue van die voedingsprogram, wat al soggens voor 06:00 begin om ontbyt vir die leerders te maak, het ook vrywillig op Maandae en Woensdae vir mense in die gemeenskap kos voorberei, wat hulle dan om 15:00 kom haal.
Ernest Adams, waarnemende skoolhoof, sê hulle sukkel egter om deesdae genoeg skenkings in te kry. “Die lyk my die finansies knyp maar almal – waar ons eers twee keer vir die gemeenskap kon gee, is dit nou net een keer.”
Hy sê die drie vroue in die skool se kombuis, Charmaine September, Juliana Petersen en Laurenchia de Bruyn, verrig wondere en sit vrywillig die langer ure in om die gemeenskap te help.
Die skool is baie dankbaar vir ’n handvol skenkers wat elke nou en dan bydraes maak. Soms is daar ook skenkings vanuit die gemeenskap en die onderwysers maak ook bydraes as hulle kan.
Adams sê hulle hoop daar is dalk maatskappye of besighede wat hulle sal kan verbind tot skenkings of donasies op ’n meer gereelde basis.
Groot hulp
Verlede Woensdag voor 15:00 was daar reeds sowat 50 mense voor die skool se hek. Karin van Schalkwyk, ’n onderwyser-vrywilliger, het uitgewys dat die mense wat kom kos haal, in rye opgedeel word. Bejaardes of gestremdes word eerste gehelp. Mense moet hul eie bakke bring waarin die kos dan opgeskep word.
Lielani Africa, wat in ’n rolstoel is, hoop daar sal meer skenkings inkom, maar is dankbaar dat hulle nog een keer per week kos kan kom haal. “Dis vir ons ’n groot hulp. Vir baie in die gemeenskap wat kom kos haal, is dit miskien net daai een maaltyd wat hulle vir die dag eet; baie het nie eens gisteraand kos gehad nie.”
Woensdae is iets om na uit te sien. “Dan weet ons ons gaan ’n gekookte maaltyd kry. Juffrou Van Schalkwyk is baie gefokus op die kinders, die gestremdes en die bejaardes,” sê Africa.
“Sien, ons kry net daai maandelikse toelae en dit hou nie. Hier is baie minderbevoorregte kinders en mense wat kom. Soms skenk hulle ook klere vir ons – warm baadjies, skoene, broeke, tops. Ek het laasweek ’n kombers en ’n nice warm baadjie gekry vir die winter wat kom.
“Ons is baie dankbaar vir Irista-skool wat vir ons help. Al is dit net een dag. As hulle dit nou nie vandag doen nie, dan gaan baie mense honger slaap – kinders en oumense. Baie gebruik medikasie en moet eet, so dit help baie.”
Sy vertel van die kinders wie se ouers toelaes kry het voor die skoolvakansie kospakkies ontvang om huis toe te neem, aangesien daar toe geen voeding by die skool was nie.
Buiten kos hoop sy vir skenkings van toiletware, warm klere en skoolskoene. ”Ek sal dit like dat iemand skenkings maak van toiletries – seep, waslap, tandeborsel, tandepasta, want van die kinders en selfs grootmense het nie.”
Benodig
Charmaine, Juliana en Laurenchia, die vlytige trio in die kombuis, sê hulle sal skenkings van aartappels, sopmengsels, droë bestanddele, kruie, speserye en geurmiddels, aftrekselblokkies (stock), hoender (nekkies), sopbene, groente, meel (vir vetkoek), olie, en brood waardeer.
Skoonmaakmiddels, staalwol, handskoene en haarnette is ook welkom.
In die winter sien hulle gereeld dat van die mense wat kom kos haal, nie warm genoeg aangetrek is nie. Skenkings van klere en komberse sal dus help.
Van Schalkwyk sê plastiekbakkies en eetgerei of selfs vrywillige hande wat kan help om kos uit te deel, is altyd welkom.
Die skool is ook besig om sy biblioteek uit te brei. As jy huis skoonmaak en boeke en bordspeletjies het, sal Irista dit graag neem.
Kontak Karin van Schalkwyk by 072 596 9351 of Elizabeth Nimrod (sekretaresse) by 021 903 3987 om te help.





