Ná die dood van 10 bejaardes binne sowat drie weke by ‘n ouetehuis in Kraaifontein het dit nou aan die lig gekom dat verwaarlosing en ’n tekort aan kos reeds maande terug by die departement van maatskaplike ontwikkeling aangemeld en ondersoek is.
KSE Kraaifontein Tehuis in Scottsville is ’n nie-winsgewende organisasie wat onafhanklik bestuur word en ’n staatsubsidie van R3 541 kry vir elke inwoner wat ’n Sassa-pensioen ontvang. Ingevolge wetgewing mag daar ook tot en met 90% van ’n inwoner se Sassa-pensioen afgetrek word vir sorg. Daar is tans sowat 136 inwoners in die tehuis.
Volgens Esther Lewis, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, is nege sterftes in Mei en een in April by die departement aangemeld – vier weens ‘n maagvirus.
Maar ander inwoners beweer dat 12 mense dood is, vermoedelik weens ontwatering wat deur diarree veroorsaak is. Inwoners het aan die koerant ’n lys van die 12 oorledenes se name verskaf. Die departement kon egter nie die ander drie sterftes bevestig nie.
John Marsh, die vorige voorsitter van die inwonerskomitee, skryf die sterftes aan nalatigheid toe.
“Ek het gesien hoe die mense begin siek word het en hoe die liggame uitgedra word, een ná die ander. Een vrou het ’n week lank op die grond gelê voordat hulle haar hospitaal toe gevat het. Maar toe hulle haar uitstoot, het ek aan haar hand gevat en dit was reeds yskoud. Die plek is vervuil en toilette is dae lank nie skoongemaak nie,” sê Marsh, wat ook al voorheen klagtes van mishandeling en verwaarlosing by die tehuis se direksie aangemeld het.
Marsh sê hy is deur ’n lid van die direksie geïntimideer nadat hy begin kla het oor die nalatigheid by die tehuis en moes verlede week by die hof aansoek doen om ’n interdik te verkry.
Lewis sê die departement is bewus van die interdik, maar kan nie kommentaar lewer voordat die saak in die hof was nie.
“Ek gee om vir die mense in die plek. Dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor hoe sleg ons behandel word. Ek, wat nog by my volle verstand is, word sleg behandel. Wat gebeur met die inwoners wat nie meer by hul volle verstand is nie?” sê Marsh.
Ernstige toestand
’n Familievriend van ’n 75-jarige vrou is op 10 Mei in ’n ernstige toestand in Karl Bremer-hospitaal opgeneem. Sy was glo twee weke siek voordat die tehuis haar dogter in Johannesburg geskakel het.
“Ek moes inderhaas vir haar medikasie gaan koop en na die tehuis toe bring. Sy het later ontwater en die tehuis het haar na die daghospitaal geneem waar sy aan ’n drup gekoppel en later weer ontslaan is. Sowat ’n week later is sy weer na die daghospitaal geneem, maar is ná ’n hele dag se gewag teruggestuur tehuis toe sonder dat sy gehelp is,” sê die familievriend wat nie haar naam genoem wil hê nie.
“Die verpleegsuster by die tehuis het toe verlede week weer ’n ambulans ontbied om haar Kraaifontein-daghospitaal toe te vat. Daar het sy van 04:00 in die oggend gesit en is eers laataand Karl Bremer- hospitaal toe vervoer waar sy opgeneem is.
“Dokters het vir ons gesê dat sy reeds erge nierversaking en septisemie opgedoen het as gevolg van die diarree en dat die skade so groot was dat sy nie weer sal kan loop nie.”
Sy is Vrydag ontslaan en met haar aankoms by die tehuis wou werkers haar in ’n stinkende rolstoel sit. Daar is glo ook nie ’n ete vir haar uitgehou nie.
“Die rolstoel was nat en het na urine geruik. Die hele tehuis het gestink na urine en ek het gevra of ek sakkies chloor kan bring sodat hulle die plek behoorlik kan skoonmaak,” sê sy.
Sy beweer ook sy het opgelet dat talle oumense ure lank in hul vuil doeke gelos word.
Skrywe gerig
’n Vrywillige werker wat bejaardes by die tehuis al meer as vier jaar lank besoek sê hy het in Maart ’n skrywe aan die departement gerig oor hoe sleg dit daar gaan.
In die skrywe sê hy dat die etes by die tehuis soms baie min en onsmaaklik is, en dat die lekker kos wat deur Woolworths aan die tehuis se inwoners geskenk word, deur werknemers weggedra word.
“Verlede jaar begin Oktober was daar nie kos vir die inwoners nie. Een van die vroue wat kook, het my gevra om te help, en ons het kos vir ’n week voorsien. Begin Maart vanjaar was daar weer ’n tekort aan kos. Donasies aan die tehuis word deur werkers weggedra, selfs die inwoners wat bedlêend is kry by tye nie hul geskenke nie,” sê die vrywilliger wat onder voorwaarde dat sy identiteit beskerm word met die koerant gepraat het.
Hy beweer ook dat afsprake nie gemaak word vir die inwoners om na die dokter of daghospitaal toe te gaan nie.
“Werkers maak gebruik van vervoer, maar die inwoners kan nie. Werkers speel op hul selfone en versorg hul naels terwyl die inwoners se naels al omkrul. Hulle is altyd besig met iets anders behalwe hul werk.
“Twee weke gelede het van die inwoners gestink en ek moes reël dat een van die ander inwoners toesien dat hulle gewas word. Sommige inwoners wat hulle self nie kan help nie word deur ander in hul rolstoele gesit, net om bietjie vars lug buite te kry,” sê hy.
Daar word ook beweer dat daar geld van inwoners se Sassa-pensioen afgetrek word vir benodigdhede wat hulle nie gebruik nie, en dat werkers laat opdaag en vroeg huis toe gaan en dat daar sedert Oktober verlede jaar nie ’n verpleegkundige by die tehuis werk nie.
Lewis sê die klagtes is in Maart deur amptenare van die departement ondersoek.
“Met die ondersoek het die amptenare die tehuis besoek om die perseel te inspekteer en die koskaste na te gaan. ’n Vergadering is op 26 Maart gehou waar ingryping breedvoerig met die inwonerskomitee, die direksie en personeellede bespreek is,” sê Lewis. “Die departement werk al sedert verlede jaar saam met die bestuur van die tehuis om sekere kwelpunte op te los. ’n Plan om dienslewering te verbeter is in plek gestel. Daarvolgens moes ’n fasiliteitbestuurder wat ook ’n verpleegkundige is, aangestel word; ’n gesondheidsoudit gedoen word en die bejaardes se voedselinname met ’n dieetkundige bespreek word.”
Met betrekking tot die onlangse sterftes sê Lewis: “Hoewel ons nie self die oorsake van die bejaardes se dood kan ondersoek nie sal ons die omgewingstandaarde ondersoek wat moontlik tot onnatuurlike sterftes kon lei,” sê sy.
Lewis sê die departement sal voortgaan om die tehuis te monitor en ondersteuning te verskaf waar nodig.
Patricia van der Ross, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, het bevestig dat die Stad ’n klagte oor higiëne by die tehuis ontvang het.
“Ten tye van die inspeksie is gevind dat die standaard van higiëne aanvaarbaar is. Voedsel- en watermonsters is ook geneem, en die uitslae voldoen aan relevante standaarde,” sê Van der Ross.
Ernest Smit, voorsitter van die tehuis, het Vrydag telefonies aan TygerBurger gesê die aantygings is onwaar.
Hy het gevra dat ’n medianavraag skriftelik na hom gestuur word. Teen druktyd het TygerBurger nog geen terugvoering van Smit ontvang nie. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.





