Opknapwerk aan die Lentegeur-sportterrein is op koers en voorafvervaardigde betonmure is reeds opgerig.
Avron Plaatjies, raadslid vir Wyk 76, was opgewonde met die aanvang van die projek in Maart en het gesê dat die projek sonder enige verdere vertragings voortgaan. Dit volg ná grondgryppogings aan die einde van 2023.
Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die Stad Kaapstad se departement van ontspanning en parke het die oprig van die voorafvervaardigde omtrekmuur en dubbele heining as die eerste fase van die projek geprioritiseer.
Die amptelike begindatum vir die eerste fase was Donderdag 7 Maart nadat die projekplan in Februarie goedgekeur is.
“Ná die voltooiing van die eerste fase sal die departement met herstelwerk aan die besproeiingstelsel en die opknap van die sportterrein begin, wat albei vir die 2024/2025-boekjaar geoormerk is,” sê Van der Ross.
Die goedgekeurde begroting vir die eerste fase is R12 miljoen en die projek sal na verwagting teen 30 Junie voltooi wees.
Hoop
Plaatjies sê hierdie is meer as net ’n muur.
“Hierdie muur bring baie meer hoop vir die gemeenskap dat ons sportterrein herstel sal word.
“Binnekort is ons terug en speel wonderlike sport op die Lentegeur-sportterrein,” sê Plaatjies.
Rugby- en sokkerklubs wat die sportterrein as tuisbasis gebruik, is reeds van die A-velde verskuif om dit ’n ruskans te gee tydens die herstelwerk.
Plaatjies sê dit is al jare sedert die veld laas vir spel gebruik kon word, en klubs sien daarna uit om weer nader aan die huis hul sport te beoefen.
Hy moedig ander klubs aan om aansoek te doen om al die sportkodes terug te bring.





