Inwoners van ’n straat in Belhar sê hulle sukkel nou al maande lank met ’n stank wat oor die hele buurt hang weens ’n drein wat gedurig oorstroom.
Andy James, ’n inwoner van Banjostraat, sê die oorstroming van die drein het vyf maande gelede begin.
“Ons het al soveel keer gekla en dan word die bokant van die straat net skoongemaak. Deesdae lê die rioolvuil vir dae aaneen en ons kan nie eens ons vensters oopmaak nie. Mense word al siek van die stank en ons kinders kan nie meer in die straat speel nie. Dit is ook nie net ons straat waar probleme is nie,” sê James. Hy voel ’n permanente oplossing moet vir die probleem gevind word.
“Dit is duidelik dat ’n groter probleem bestaan en solank daar nie by die wortel van die probleem uitgekom word nie, sal die straat oorstroom word. Ons wens iemand wil na ons luister,” sê James.
Bewus van die probleem
Desmond Japtha, plaaslike raadslid, sê hy is bewus van die probleem. “Alles het begin toe ’n ondergrondse hoofrioolpyp ’n ruk gelede gebars het. Dit het by drie plekke meegegee en intussen is daar besluit om die riool van een drein na ’n ander te pomp. Die straat word intussen elke dag skoongemaak,” sê Japhta.
Volgens Japhta is ’n kontrakteur aangestel om die skade aan die hoofrioolpyp reg te maak. “Die kontrakteur is reeds besig om die nodige permitte te bekom voordat hulle met die werk gaan begin. As alles goed afloop behoort die uitgrawings reeds op 9 Julie te begin. Die soort pyp wat vervang moet word, is 450 mm wyd en strek oor ’n afstand van 60 m. Uitgrawings sal tot op ’n diepte van 8 m gedoen moet word,” sê hy. Hy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om geduldig te wees terwyl die herstelwerk aan die gang is.





