Wenk oor wapentransaksie lei tot man (20) in Bellville se arrestasie

Die suksesvolle arrestasie volg na ’n spanpoging deur (van links) serss. Nolan Ruiters, Magdalene Carolus, Jonathan Booysen en Mario McBride.


’n Nuuswenk oor ’n beplande onwettige wapentransaksie het Bellville-polisiebeamptes op die spoor van ’n 20-jarige man geplaas, wat op Dinsdag 9 Julie gelei het tot ’n skitterende inhegtenisneming.

“Die inligting wat verkry is, was dat dié persoon van Paarl in ’n taxi onderweg was om ’n wapentransaksie met ’n ander man te sluit.

“Die vuurwapen was reeds betaal en die verdagte was juis na Bellville onderweg om die onwettige vuurwapen aan die koper te oorhandig.”

Só vertel lt.kol. Fienie Nimb, Bellville-polisiewoordvoerder.

Danksy dié nuuswenk se volledige kleredrag-beskrywing het dit polisiebeamptes in staat gestel om die verdagte op straat uit te ken.

“Toe hy uit die taxi klim, was Bellville-polisiebeamptes kort op sy hakke. Toe hy besef dat die beamptes hom agtervolg, het hy die vuurwapen neergegooi en deur Middestad Mall begin hardloop,” sê Nimb.

Terwyl sommige van die beamptes die verdagte agterna gesit het, het een die onwettige vuurwapen opgespoor en daarop beslag gelê.

“Die beamptes het die verdagte tot in die winkelsentrum gevolg en vasgetrek. Daar is ook ammunisie by die man gekry.”

Klagtes van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en besit van ammunisie word teen die Paarlse verdagte ondersoek.

“Sers. Jonathan Booysen, wat die nuuswenk opgevolg en die inhegtenisneming uitgevoer het, is vroeër vanjaar as lid van die misdaadvoorkomingseenheid van die jaar aangewys,” het Nimb ter afsluiting bygesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article