Aletta Lottering, ’n gewaardeerde gemeenskapsaktivis in Ruyterwacht, deel haar reis van gemeenskapsdienslewering en die impak wat sy op die lewe van jongmense en gesinne in die omgewing gemaak het.
Lottering se betrokkenheid by die gemeenskap het in ’n tyd begin toe bendegeweld en dwelmmisbruik ’n groot probleem in Ruyterwacht was.
“Aangesien ons gemeenskap deur bendegeweld en dwelms geteister was, was die inwoners baie positief dat ek ’n verskil kan maak in die jongmense se lewens,” sê sy. Die gemeenskap het haar ondersteuning aangebied en haar as die “Florence Nightingale” van die buurt begin beskou. Onder haar leiding het meer as 300 jongmense by haar groep aangesluit, waar hulle betrokke geraak het by drama, dans en ander aktiwiteite oor naweke, veral in tye wanneer geweld op sy ergste was.
“Ons is ook baie gerespekteer wanneer ons oor naweke programme aangebied het,” voeg sy by.
Werklose vroue
Lottering se werk strek verder as net die jongmense. Sy het die Safety Parent Patrol-groep begin deur met werklose vroue in die gemeenskap te praat oor die veiligheid van kinders in die buurt.
“Ons strate is baie stil en dit is wanneer huisbrake gebeur. Ons kinders wat inkom van buite, is beroof en aangeval en ons skoolkinders kort ook veiligheid.”
Die vroue het die idee ondersteun en besef hoe noodsaaklik dit was om veiligheid in hul strate te verhoog.
Hierdie inisiatief word ook ondersteun deur die wykraadslid, Chris Jordaan, sowel as die skole waar die patrolleerders betrokke is.
“Die hoofde van die skole is baie ondersteunend veral omdat ons kyk dat boeliegedrag nie plaasvind nie,” sê Lottering. Twee van die werklose patrolleerders het intussen werk gekry in die skole se kombuise – ’n hoogtepunt vir Lottering en die gemeenskap.
Hoogtepunte en laagtepunte
Lottering glo sterk dat daar nog baie verandering kan kom vir die jeug van Ruyterwacht. Sy beskryf haar werk as uitdagend, maar noodsaaklik. “Die oes is groot, maar die hande is min,” sê sy.
Buiten haar werk met die Safety Parent Patrol is sy ook ’n vrywilliger by die Elsiesrivier-polisie se traumakamer. Daar bied sy ondersteuning aan mense wat trauma beleef, insluitend gesinsgeweld, geslagsgebaseerde geweld en ander vorme van mishandeling. Hierdie werk vereis ’n diep empatie en begrip vir die hartseer en swaarkry van ander.
Vir Lottering is een van die grootste laagtepunte die gebrek aan eenheid onder gemeenskapsleiers. “As leiers moet ons hande neem, saam werk, saam besluite neem en saam ons gemeenskap opbou,” sê sy. Sy beklemtoon die belangrikheid daarvan dat leiers moet leer om oor hul verskille te kom en saam te werk om die gemeenskap ’n beter plek te maak.
“Ons as leiers moet daar wees om vir die mense wat nie ’n stem het nie, ’n stem te kan wees,” voeg sy by.
Persoonlike lewe en motivering
Lottering is ’n ma van twee, ’n ouma van vyf kleinkinders en ’n agterkleinkind. Sy is al 30 jaar saam met haar lewensmaat en het haar kinderjare in Malmesbury deurgebring voordat sy na Kaap toe verhuis het. Sy woon al meer as 20 jaar in Ruyterwacht en beskryf haarself as ’n nederige mens met ’n diep passie en liefde vir mense. Die veiligheid van kinders en ouer mense lê haar na aan die hart.
Lottering se geloof is vir haar ’n groot bron van inspirasie. “Ek glo daarin; die Here se goedheid agtervolg jou as jy Sy hande en voete is. Wees altyd dankbaar en nederig,” sê sy.





