Die brandende gebou in Parow.

Verskaf

‘n Seun (5) is in ‘n vlammehel dood nadat ‘n brand Maandagmiddag, 19 Augustus, ‘n woonstelgebou in Parow verswelg het.

Die brand het by ‘n woonstelblok op die hoeke van Tallent- en Voortrekkerweg in Glenlily, Parow, uitgebreek.

Die oorsaak van die brand is nog onbekend, maar TygerBurger het vertroulik verneem dat dit dalk deur ‘n stoof wat aangeskakel was, veroorsaak is.

Die gebou, geleë oorkant die Parow-stadsaal en munisipale kantore, huisves ‘n akademie en kafee op die grondvloer, sowel as die Parow Centre Tallent Park.

Shakir Smith, voorsitter van die Parow-gemeenskapspolisieringforum (GPF), was op die toneel. Hy het aan TygerBurger gesê die Stad Kaapstad se nooddienste, waaronder die brandweer en verkeersdienste, was net voor 18:00 steeds op die toneel.

Die koerant wag nog op amptelike kommentaar vanaf die Stad Kaapstad.

Die voorval is om 17:10 op die WC Live Traffic & Safety Reports se sosiale media-blad gedeel.

Dit is onduidelik of nog enigiemand anders in die voorval beseer of dood is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article