Koos Visagie (65) was ’n doodgewone man, maar Hoheizen-inwoners sal hom altyd onthou vir sy passie en geesdrif wat hy die afgelope paar jaar aan die tuin by die ingang van die woongebied bestee het.
Visagie het Sondagoggend 25 Augustus weens natuurlike oorsake gesterf, slegs sowat vier jaar ná sy aftrede as ’n logistieke amptenaar by die Goodwood-gevangenis.
Hy sou in Desember sy 66ste verjaarsdag vier.
Pa, vriend, broer en groen vingers
’n Buurvrou van Visagie, Thea Kleynhans, het die volgende oor hom geskryf:
’n Buurt waar jy nog gegroet word, daarvoor het Koos gesorg. Koos kon doelbewus met ’n ernstige gesig iets kwytraak – sy idee was om reaksie uit te lok.
Oog was altyd op die straat
“Sy oog was altyd op die straat vir onwelkome rondlopers. As ’n pyp by jou huis gebars het, was dit Koos wat dadelik kom help. ’n Motor wat breek of ’n boom wat op jou werf geval het? “Bel vir Koos!
LEES: Nuwe tuin in Welgemoed aangelê
Wat ’n voorreg om in die stad in ’n buurt te bly waar ’n inwoner so betreur word soos Koos Visagie. Koos was altyd daar vir hulp, raad en bystand. Hoheizen se ingang getuig van Koos se handewerk.
“Ons harte is seer oor Koos, maar sy monument sal altyd by die ingang van Hoheizen staan – sy pragtuin. Dankie vir Annette wat nie omgegee het as hy alles by sy huis moes los en eers kom help nie. Ek wens hy kan weet hoeveel seer harte hy agterlaat. Ons sê dankie dat ons Koos geken het.”
Handig vir Hoheizen
“Dié tuin is ’n lang strook langs die ingang van Hoheizen, wat hy onder sy vlerk geneem het. Al was daar ’n tuinman aangestel om weekliks die tuin te versorg, het Koos nogtans byna elke dag aan die tuintjie gewerskaf,” vertel nog ’n buurvrou wat hom goed geken het, Hanna Joubert.
Leemte
Sy afsterwe laat vir die Wyk 70-raadslid, Ronel Viljoen, ook ’n leemte in die gemeenskap. “Oom Koos was passievol oor sy tuin en dat dinge moes reg loop! Hy was ’n omgee-mens en het diep spore in die gemeenskap getrap. Hy het ook in die Hoheizen-belastingbetalersvereniging gedien,” sê Viljoen.





