Foto ter illustrasie.

Argief

Daar is sover nog geen arrestasies uitgevoer na die moord op ‘n senior inwoner van Panorama nie, het sy seun aan TygerBurger gesê.

Die Wes-Kaapse polisie het bevestig dat ´n 72-jarige man verlede week by sy huis in Panorama tydens ´n huisrooftog vermoor is.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê volgens ´n verslag was die slagoffers, die bejaarde man en sy vrou, verlede Dinsdag aan die slaap toe onbekende verdagtes hul woning betree en hulle vasgebind het. “Die slagoffers is deur ´n familielid gevind en bevry,” sê Twigg.

LEES | Man (72) by sy huis in Panorama vermoor

Hy sê die bejaarde man, Hussain Mukadam, is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. “Die oorsaak van sy dood vorm deel van die polisie se ondersoek,” sê hy. Volgens Twigg het die verdagtes gevlug. ´n Televisiestel is in die aanval gebuit.

Die oorledene en sy vrou het ’n huis met sy enigste seun, Mustafa Mukadam, en sy gesin gedeel.

Hy het aan TygerBurger gesê dat sy pa ’n mense-mens was, iemand wat altyd 100% van sy tyd aan ’n mens sou afstaan, en ook iemand wat altyd ’n glimlag op ’n persoon se gesig sou laat.

“Hy was nie die wêreld se rykste man nie, maar hy sou sy tyd met jou deel, en dit is meer waardevol as om vir iemand iets te koop,” sê Mukadam.

Hy sê sy pa het geleef vir sy drie kleinkinders.

LEES | Die nuutste digitale weergawe van die TygerBurger hier

Hy sê ook sy ma neem dit nog dag vir dag ná die aanval by die gesin se huis.

“Ons almal woon in een huis. Dit is nie ’n aparte woning nie, net ’n deur wat ons eenheid van hulle s’n skei,” verduidelik hy.

Hy sê sover is niemand nog vir die aanval aangekeer nie.

“ ’n Week is verby, maar ons het nog niks van die polisie gehoor nie. Niemand het ons nog sover gekontak nie,” sê hy.

Hy sê sy ma het glo drie mense op die betrokke aand in die huis gesien. Die bure het egter nog twee buitekant gewaar.

“Die bure het vertel hoe hul honde die aand aanhoudend geblaf het,” sê hy.

Gemeenskap verleen bystand

Die PWP-buurtwag (Plattekloof, Welgelegen en Panorama) sê in ’n verklaring die oorledene se vrou het glo hul seun in kennis gestel.

Die aanval het glo om 01:00 plaasgevind. Mukadam beweer dat die aanvallers van ’n ander eiendom af gekom het, en toe op ’n manier in hul erf beland het.

Cheryl Visser, wykraadslid, sê die tragiese voorval en heengaan van die bejaarde inwoner laat die gemeenskap bedroef. “My innige meegevoel aan die familie en vriende in dié pynvolle tyd.”

Visser het alle veiligheid-en-sekuriteitsrolspelers, insluitend die polisie, buurtwagte, en private sekerheidsmaatskappye, aangemoedig om saam te werk om te verseker dat die oortreders aanspreeklik gehou word. “Die veiligheid van ons gemeenskap is van uiterste belang.”

PWP sê hy werk saam met ’n plaaslike private sekerheidsmaatskappy en die polisie om die voorval te ondersoek. “Die owerhede doen alles wat hulle kan om inligting te bekom, wat sal kan help om die misdadigers te identifiseer en aan te keer,” sê Konrad Kubirske, PWP-voorsitter.

Hy sê die aanval het die gemeenskap bevrees gelaat. “Ons wil almal egter verseker dat ons inwoners se veiligheid ’n top-prioriteit is. Indien jy enige inligting het wat sal kan help met die ondersoek, kom asseblief na vore en help ons om geregtigheid vir die gesin te bring,” sê hy.

Kubirske sê hul harte, gedagtes en simpatie is met die gesin in die moeilike tyd.

Mukadam het ook sy dank teenoor die gemeenskap uitgespreek.

“Ek wil die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning en bystand, veral op die dag van die begrafnis.”

Sy pa is verlede Woensdag volgens die Moslem-geloof begrawe. Talle rouklaers het die begrafnis bygewoon.

Die Mukadam-gesin het vir 20 jaar in Parowvallei gewoon, voordat hulle ’n jaar gelede na Panorama verhuis het.

’n Saak van moord en huisroof word deur die Parow-polisie ondersoek ná die voorval in President Brandsingel in Panorama.

  • Enigiemand met inligting word versoek om die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article